hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Riglyne vir die huwelik

1. Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed.

2. Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.

3. Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie.

4. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.

5. Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.

6. Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie.

7. Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander.

8. Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly.

9. Maar as hulle nie selfbeheersing kan toepas nie, is dit beter om te trou as om deur seksuele begeerte verteer te word.

10. Vir die getroudes het ek ’n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ’n vrou nie van haar man behoort te skei nie.

11. Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie.

12. Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ’n direkte opdrag van die Here het nie. As ’n Christenman ’n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.

13. En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie.

14. Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle.

15. (Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.)

16. Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word.

17. Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes.

18. As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie.

19. Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom.

20. Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het.

21. Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan.

22. En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword.

23. God het julle teen ’n duur prys gekoop! Moenie slawe van mense word nie.

24. Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het.

25. Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur.

26. Met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dink ek dis die beste dat julle bly soos julle nou is.

27. As jy aan ’n vrou verbind is, moenie die huwelik probeer beëindig nie. As jy ongetroud is, moenie ’n vrou probeer kry nie.

28. Maar as jy sou trou, doen jy nie sonde nie en as die ongetroude meisie sou trou, doen sy nie sonde nie. Ek wil julle egter die ekstra kwellinge spaar wat die huwelik meebring.

29. Dít wil ek vir julle sê, broers en susters, onthou die tyd wat nog oorbly, is kort. Daarom moet die getroude mans besef dat daar dinge is wat nog belangriker is as hulle huwelik.

30. Om bly of hartseer te wees, of dinge te kan aankoop mag nie in die pad staan van die Here se werk nie.

31. Dié wat gebruik maak van die dinge van hierdie wêreld, moenie daaraan geheg raak nie. Want hierdie bedeling gaan verby.

32. Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak.

33. Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak.

34. Sy aandag is verdeeld. Net so kan ’n vrou wat nie langer getroud is nie of nog nooit getroud was nie, haar aandag op die Here toespits om met liggaam en siel aan Hom toegewy te wees. Die getroude vrou is egter oor wêreldse dinge begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak.

35. Ek sê hierdie dinge in julle belang, nie om allerlei beperkings op julle te lê nie. Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe.

36. Maar as ’n jong man oordeel dat hy oneerbaar teenoor sy meisie optree as hy nie met haar trou nie, of as hy probleme het om sy passie te beheer, moet hy na sy goeddunke handel. Hy doen nie sonde nie. Laat hulle maar trou.

37. Maar as hy innerlik sterk staan en daar geen noodsaaklikheid bestaan om te trou nie; en as hy goeie selfbeheersing het en in sy hart klaar besluit het om sy meisie in haar ongehude staat te laat bly, doen hy ook goed.

38. Hy wat dus met sy meisie trou, doen goed. Maar hy wat nie trou nie, doen beter.

39. ’n Vrou bly aan haar man verbind vir so lank as wat hy lewe. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vry om met iemand van haar keuse te trou – mits hy ook ’n Christen is.

40. Ek is egter van opinie dat sy gelukkiger sal wees as sy ongetroud bly. En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.