hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie.

2. Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood.

3. Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering.

4. My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het.

5. Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God.

6. Ja, wanneer ek onder geestelik volwassenes is, gebruik ek wel woorde van wysheid, maar dan ook nie die soort wysheid wat eie is aan hierdie wêreld of aan die heersers van hierdie wêreld wat self tot die verlede sal behoort nie.

7. Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang.

8. Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie.

9. Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:“Wat geen oog gesien het;wat geen oor gehoor het;wat in niemand se hartopgekom het nie –dit het God voorbereivir hulle wat Hom liefhet.”

10. Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime.

11. Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ’n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God.

12. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het.

13. As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het by die Gees. Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik.

14. Die natuurlike mens kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ’n geestelike perspektief verstaan word.

15. Ons in wie die Gees is, verstaan al hierdie dinge, maar ander kan ons glad nie verstaan nie.

16. Hoe kan hulle ook? Want:“Wie kan verstaanwat die Here dink?Wie kan Hom raad gee?”Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is ingestel om soos Christus te dink.