hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus praat oor sy verhouding

met die Korintiërs

1. Dit beteken dat julle ons moet beskou as blote diensknegte van Christus. Ja, as mense wat God se diepsinnige planne moet help bestuur.

2. Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.

3. Wat van my? Was ek betroubaar? Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie. Ek vertrou selfs nie eers my eie oordeel in hierdie opsig nie!

4. My gewete is skoon, maar daarmee is ek nog nie noodwendig skotvry nie. Die Hére se oordeel oor my is al wat saak maak.

5. Julle moet dus nie voortydig ’n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring. Dan sal God aan elkeen die lof gee wat hom of haar toekom.

6. Broers en susters, ek het myself en Apollos as voorbeelde gebruik sodat julle van ons kan leer. As julle na die Skrif luister, sal julle nie oor julle leiers teenoor mekaar spog nie.

7. Wat maak jou beter as enige ander gelowige? Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?

8. Julle is so absoluut selfvoldaan! Julle dink julle is al klaar skatryk! Sonder ons het julle al klaar konings geword! Ek wens dit was werklik die geval, want dan sou ons al saam met julle op die troon gesit het!

9. Soms lyk dit vir my of God aan ons wat apostels is, die heel agterste plek in die prosessie toegeken het. Ons is soos terdoodveroordeeldes wat in die arena moet sterf, ’n skouspel waarmee die hele wêreld spot – engele sowel as mense.

10. Ons toewyding aan Christus laat ons dwaas lyk, maar julle is mos die Christene wat weet! Ons is broos, maar julle is die sterkes. Julle is die mense van aansien, maar ons is die veragtes.

11. Tot nou toe ly ons honger en dors, ons is skamel aangetrek; ons word geslaan en het geen tuiste nie.

12. Ons moet swoeg deur met ons eie hande te werk. Ons seën dié wat ons uitskel. Ons is geduldig met hulle wat ons vervolg.

13. Ons bly vriendelik wanneer ons beskinder word. Ons het die uitvaagsels van die wêreld geword, almal se sondebokke. En so is dit nog steeds.

14. Wat ek skryf, bedoel ek nie kwetsend nie, maar om julle te vermaan soos ’n mens maak met kinders wat jy liefhet.

15. Want selfs al sou julle tienduisend ander leermeesters hê om julle omtrent Christus te onderrig, het julle net een geestelike vader. Ek het tog julle vader in Jesus Christus geword toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het.

16. Daarom vra ek julle dringend: Volg my voorbeeld!

17. Ek het Timoteus juis om hierdie rede na julle toe gestuur – om julle hierin by te staan. Hy is my geliefde en betroubare kind in die Here. Hy sal julle herinner aan my Christelike optrede en onderrig, soos ek dit oral in elke gemeente doen.

18. Toe dit lyk of ek nie meer na julle toe sal kom nie, het party van julle arrogant geraak.

19. Ek daag egter sommer eersdaags by julle op, as die Here wil. Dan sal ek wel uitvind of hierdie arrogante persone maar net grootpraters is, en of hulle tog oor God se krag beskik.

20. Want in die koninkryk van God gaan dit nie om blote praatjies nie, maar om ’n lewe in die krag van God.

21. Wat verkies julle? Moet ek met ’n lat na julle toe kom, of in ’n gesindheid van liefde en vriendelikheid?