hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus Christus het beslis

opgestaan!

1. Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof.

2. Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos.

3. Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het.

4. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan.

5. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels.

6. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood.

7. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels.

8. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is.

9. Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het.

10. Maar deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het.

11. Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het.

Die dooies sal beslis opstaan

12. Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood bestaan nie?

13. As daar werklik geen opstanding uit die dood is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.

14. Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval.

15. Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie.

16. Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.

17. En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes.

18. In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore!

19. As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees!

Christus se opwekking

waarborg die gelowiges se

opstanding

20. Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan.

21. Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword.

22. Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word.

23. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word.

24. Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het.

25. Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het.

26. Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood.

27. Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.” (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.)

28. Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees.

29. As die dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, watter sin het dit dan dat mense hulle vir die dooies laat doop? Waarom sou hulle dit nog vir die dooies doen as hulle in elk geval nie weer opgewek word nie?

30. En waarom sal ons ons lewens uur na uur in gevaar stel?

31. Dag na dag verkeer ons op die randjie van die dood. Dit is die absolute waarheid, broers en susters, net so seker as dat julle ons trots is oor wat Christus Jesus ons Here vir julle gedoen het.

32. Verder, waarom sou ek as’t ware met wilde diere in Efese geveg het as dit alles verniet was? As daar geen opwekking van die dooies is nie, “laat ons feesvier en dronk word, want môre sterf ons”.

33. Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want“slegte geselskap bederf goeie gewoontes”.

34. Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref.

Paulus beskryf hoe gelowiges se

opstandingsliggaam sal wees

35. Nou kan iemand vra: “Hoe sal die dooies wees wanneer hulle opgewek word? Watter soort liggame sal hulle hê?”

36. Jou onverstandige mens, as jy saad in die grond sit, ontkiem dit tog nie tot nuwe lewe as dit nie eers self doodgegaan het nie.

37. Wat jy in die grond sit, is nie die plant wat gaan groei nie, maar bloot ’n droë koringkorreltjie of watter ander saad jy ook al plant.

38. Dan gee God daaraan ’n nuwe liggaam – presies soos Hy dit bepaal het. Van elke soort saad groei daar ’n ander soort plant.

39. En net soos daar verskillende soorte saad en plante is, so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend.

40. Verder is daar ook hemelse liggame en aardse liggame. Die prag van die hemelliggame verskil van dié van aardse liggame.

41. Die stralende prag van die son verskil van dié van die maan, en die sterre het weer hulle eie prag. Die een ster se prag verskil ook weer van die ander een.

42. Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies. Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie.

43. Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid. Daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.

44. ’n Fisiese liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame.

45. Die Skrif sê vir ons: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende, fisiese persoon geword.” Maar die laaste Adam – dit is Christus – het ’n lewendmakende geestelike Persoon geword.

46. Die natuurlike, fisiese liggaam het eerste gekom, daarna die geestelike een.

47. Adam, die eerste mens, was uit die stof van die aarde gemaak, terwyl Christus, die tweede mens, van die hemel kom.

48. Elke menslike wese het ’n aardse liggaam, net soos dié van Adam, maar ons hemelse liggame sal net soos dié van Christus wees.

49. Net soos ons nou ewebeelde van Adam is, die mens uit die aarde, so sal ons eendag ewebeelde van Christus wees, die mens uit die hemel.

50. Wat ek wil sê, broers en susters, is dat ’n gewone mens van vleis en bloed nie net so aan die koninkryk van God kan deel kry nie. Wat verganklik is, kan nie deel kry aan wat onverganklik is nie.

51. Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word.

52. Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word.

53. Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie.

54. Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word:“Die dood is totaal uitgewis,want dit is heeltemal oorwin.”

55. “O dood, waar is jou oorwinning?Dood, wat het van jou angelgeword?”

56. Want sonde is die angel wat die dood veroorsaak. En dit is die wet wat aan die sonde sy slaankrag gee.

57. Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here!

58. Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.