hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 5 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het gebeur dat die skare mense rondom Hom bymekaargekom het om die Boodskap van God te hoor. Hy het langs die meer van Gennesar gestaan

2. en Hy het twee bote langs die meer gesien lê en die vissers wat van hulle afgekom het, was besig om die nette te was.

3. Hy het in een van die bote, wat aan Shim’on Kefa behoort het, geklim en hom gevra om ’n entjie van die land af weg te vaar en Hy het gaan sit en die mense vanuit die boot geleer.

4. Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Shim’on: “Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak vir ’n vangs.”

5. Shim’on antwoord en sê vir Hom: “Leermeester, ons het die hele nag hard gewerk en niks gevang nie, maar op U woord sal ek die net laat sak.”

6. Toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n baie groot hoeveelheid visse gevang, tot hulle net wou skeur

7. en hulle wys vir hulle medewerkers in die ander boot om hulle te kom help en toe hulle gekom het, het hulle altwee die bote so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8. Toe Shim’on Kefa dit sien, val hy neer by die voete van Yeshua en sê: “Ek smeek van U my Meester, gaan weg van my, want ek is ’n sondaar!”

9. ’n Diepe respek het hom en almal wat by hom was aangegryp, oor die hoeveelheid vis wat hulle gevang het

10. en net so ook vir Ya’akov en Yoganan, die seuns van Zavdai, wat Shim’on se medewerkers was en Yeshua sê vir Shim’on: “Moenie bang wees nie; van nou af sal jy mense vang tot verlossing.”

11. Hulle het die bote aan land gebring, alles agtergelaat en Hom gevolg.

12. Terwyl Yeshua in een van die dorpe was, kom daar ’n man, oortrek met melaatsheid en toe hy Yeshua sien, val hy op sy gesig en smeek Hom en sê: “My Meester, as U wil, kan U my reinig.”

13. Yeshua steek Sy hand uit en raak hom aan en sê: “Ek wil, wees gereinig!” In ’n oomblik het die melaatsheid van hom af weggegaan en hy was rein

14. en Hy beveel hom om dit aan niemand te vertel nie, maar, sê Hy: “Gaan wys jouself aan die priester, vir hulle tot ’n getuienis en offer vir jou reiniging, net soos Moshe beveel het.”

15. Sy bekendheid het al hoe meer versprei en groot groepe mense het bymekaargekom om te luister na Hom en deur Hom van hulle siektes gesond gemaak te word,

16. maar Hy het Hom na verlate plekke onttrek en gebid.

17. Dit het op een van die dae toe Yeshua besig was om te leer en Fariseërs en leraars van die wet uit al die dorpe van die Galil, Y’hudah en uit Yerushalayim daar gesit het, gebeur dat die krag van יהוה om te genees daar was.

18. Manne het ’n verlamde man op ’n draagbaar gebring en hulle het ’n plek gesoek om hom in te bring en voor Hom neer te sit

19. en toe hulle nie ’n pad kon vind om hom in te bring nie, as gevolg van die menigte mense, klim hulle op die dak en laat hom met die bed, deur die teëls, tussen hulle in, voor Yeshua afsak.

20. Toe Yeshua hulle vertroue sien, sê Hy vir die verlamde man: “Man, jou sondes is vir jou vergewe.”

21. Die leraars van die wet en die Fariseërs het dit ernstig oordink en gesê: “Wie is Hy wat so kwaadpraat van God? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?”

22. Yeshua het hulle gedagtes geken en Hy antwoord en sê vir hulle: “Wat bedink julle in jul gedagtes?

23. Wat is makliker, om te sê: ‘Jou sondes is vir jou vergewe;’ of om te sê: ‘Staan op en loop?’

24. Sodat julle egter kan sien dat die Seun van die mens outoriteit het om op aarde sondes te vergewe,” sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou draagbaar op en gaan na jou huis toe.”

25. Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, tel die draagbaar waarop hy gelê het op en gaan na sy huis toe terwyl hy God loof.

26. Verwondering het almal aangegryp. Hulle het God geloof, is met respekvolle vrees vervul en het gesê: “Ons het vandag wonders gesien.”

27. Ná hierdie dinge het Yeshua uitgegaan en ’n belastinggaarder, met die naam van Levi, by die belastinghuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My”

28. Hy het alles agtergelaat, opgestaan en Hom gevolg.

29. Levi het ’n groot ontvangs vir Hom in sy huis gegee en daar was ’n groot skare belastinggaarders en ander wat saam met hulle aan tafel aangesit het.

30. Die leraars van die wet en die Fariseërs het by Sy studentevolgelinge gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met die belastinggaarders en sondaars?”

31. Yeshua antwoord hulle en sê: “Die wat gesond is, het die dokter nie nodig nie, maar die wat siek is of siek word.

32. Ek het nie gekom om onskuldiges te roep nie, maar sondaars tot erkenning, berou en omkeer.”

33. Hulle sê vir Hom: “Waarom vas en bid Yoganan se studentevolgelinge getrou; so ook dié van die Fariseërs, maar U s’n eet en drink?”

34. Hy sê vir hulle: “Kan julle die bruidshulp dan laat vas solank as die Bruidegom by hulle is?

35. Daar kom egter ’n tyd wanneer die Bruidegom van hulle af weggevat sal word; dan sal hulle vas, in daardie tyd.”

36. Hy het vir hulle ’n vergelykende storie vertel: “Niemand skeur ’n strook van ’n nuwe kleed af en sit dit op ’n ou kleed as die nuwe wat hy geskeur het nie ooreenkom met die oue nie.

37. Niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur en dit sal uitloop en die sakke sal ook vernietig wees,

38. maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word en altwee word bewaar.

39. Niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe wyn hê nie, want hy sê: ‘Die oues is soet’.”