hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 2 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het gebeur in daardie dae dat daar ook ’n bevel uitgegaan het vanaf keiser Augustos dat al die lande in sy ryk opgeskryf moes word.

2. Hierdie eerste sensus het plaasgevind toe Quirinus geheers het oor Sirië

3. en almal het gegaan, elkeen om in sy stad geregistreer te word.

4. Yosef het ook opgegaan vanaf die stad Natzeret, in die Galil, na die stad van Dawid, in Y’hudah, wat Beit-Legem genoem word omdat hy van die huis en geslag van Dawid was,

5. om hom daar te laat registreer saam met Miryam, sy bruid, wat swanger was.

6. Dit was so dat terwyl hulle daar was, die tyd vervul is dat sy geboorte moes gee

7. en sy het geboorte gegee aan haar eersgebore Seun en Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek was om in oor te bly nie.

8. Daar was skaapwagters wat in die streek gebly het en in die nag oor hulle skape wag gehou het

9. en let op, daar staan ’n boodskapper van יהוה by hulle en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het oor hulle geskyn en hulle was baie bang.

10. Die boodskapper sê vir hulle: “Moenie bang wees nie, want let op, ek verkondig aan julle groot vreugde wat vir die ganse heelal sal wees,

11. want vandag is vir julle die Verlosser, wat יהוה, Die Gesalfde Een is, in die stad van Dawid gebore

12. en dit is vir julle die teken: julle sal ’n Baba kry wat in doeke toegedraai in ’n krip lê.”

13. Skielik verskyn daar saam met die boodskapper ’n groot leermag uit die hemel, wat lofprysinge tot God uitroep en sê:

14. “Eer, lof en aanbidding aan God in die hemele en op aarde: vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed en goeie nuus aan die mense!”

15. Dit was terwyl die boodskappers van hulle af weggegaan het na die hemel dat die skaapwagters onder mekaar gepraat en gesê het: “Laat ons na Beit-Legem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat יהוה aan ons bekend gemaak het.”

16. Hulle het haastig gegaan en vir Yosef en Miryam gevind, saam met die Kind wat in die krip lê

17. en nadat hulle dit gesien het, het hulle die boodskap wat aan hulle bekend gemaak is aangaande Hom, dié Kind, bekend gemaak

18. en almal wat dit gehoor het, het hulle verwonder oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het,

19. maar Miryam het al hierdie woorde bewaar en in haar gedagtes oordink.

20. Die skaapwagters het teruggegaan en God geëer, geloof en geprys vir alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.

21. Toe die agt dae vervul is waarop hulle die Kind moes besny, het hulle Hom Yeshua genoem, die Naam wat deur die boodskapper gegee is voor Sy vorming in die baarmoeder

22. en sodra die dae van haar reiniging, volgens die wet van Moshe, vervul was, het hulle Hom na Yerushalayim gevat om Hom op te dra voor יהוה,Eks 13:2, 12, 15

23. net soos geskrywe is in die wet van יהוה: “Elke manlike kind wat die baarmoeder open, sal afgesonderd vir יהוה genoem word”Lev 12:8

24. en om die offer te bring volgens wat gesê is in die wet van יהוה: ‘ ’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.’

25. Daar was ’n man in Yerushalayim met die naam van Shim’on en hierdie man was regverdig, onpartydig opreg en het die Troos van Yisra’el verwag en die Gees van Afsondering was op hom.

26. Die Gees van Afsondering het aan hom openbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy Die Gesalfde Een van יהוה gesien het nie.

27. Gelei deur die Gees het hy in die tempel gekom en die ouers ontmoet wat die Kind, Yeshua, ingebring het om met Hom te doen volgens die opdrag van die wet

28. en hy het Hom in sy arms geneem en goed gepraat van God en gesê:

29. “Nou my Meester, laat U slaaf in vrede gaan, volgens U woord,

30. let op, my oë het U Omgee gesien;

31. Hom wat U voorberei het in die teenwoordigheid van al die volke;

32. ’n Lig vir openbaring aan die ander nasies en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid aan U volk, Yisra’el.”

33. Yosef en Sy moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is

34. en Shim’on het hulle geseën en vir Miryam, Sy moeder gesê: “Let op, hierdie Een is bestem vir die val en opstaan van baie in Yisra’el en bestem as ’n Teken wat weerspreek sal word,

35. maar ’n spies sal deur jou eie gees gaan sodat die gedagtes, wil en emosies van baie openbaar kan word.”

36. ’n Profetes, Hannah, die dogter van P’nu’el, uit die stam van Asher, was baie ver gevorderd in jare en het van haar huwelik af sewe jaar lank saam met haar man gelewe;

37. sy was ’n weduwee van ongeveer vier en tagtig jaar. Sy het nie die tempel verlaat nie en met vas en gebed, nag en dag gedien.

38. Sy het in dieselfde uur daar gestaan en יהוה gedank en aangaande Hom gepraat met almal wat die bevryding van Yerushalayim verwag het.

39. Toe hulle alles voltooi het wat volgens die wet van יהוה was, het hulle teruggegaan na die Galil, na hulle dorp Natzeret

40. en die Seun het gegroei en sterk geword in die Gees en Hy is gevul met wysheid en die onverdiende guns van God was op Hom.

41. Sy mense het elke jaar met die fees van Pesag na Yerushalayim gegaan

42. en toe Hy ’n Seun van twaalf jaar oud was, het hulle, soos hulle gewoond was, na die fees opgegaan.

43. Nadat die tyd van die fees vir hulle verby was en hulle besig was om terug te gaan, het die Seun, Yeshua, in Yerushalayim agtergebly en Yosef en sy moeder het dit nie geweet nie,

44. maar hulle het gedink dat Hy by die kinders van hulle vriende was en het ’n dagreis ver gegaan voordat hulle Hom onder die familie en die bekendes gesoek het.

45. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle teruggegaan na Yerushalayim, Hom gesoek

46. en na die derde dag het hulle Hom in die tempel gekry terwyl Hy tussen die leermeesters sit en na hulle luister en hulle uitvra

47. en almal wat Hom gehoor het, was verwonderd oor Sy insig en Sy redevoerings.

48. Toe hulle Hom sien, was hulle verslae en Sy moeder sê vir Hom: “My Seun, waarom maak Jy so met ons? Let op, Jou vader en ek het Jou in benoudheid gesoek.”

49. Hy sê vir hulle: “Hoekom is dit dat u na My gesoek het? Het u nie geweet dat Ek in die huis van My Vader besig moet wees nie?”

50. Hulle het die stelling wat Hy teenoor hulle gemaak het, nie verstaan nie

51. en Hy het saam met hulle gegaan en in Natzeret gekom en Hy was gehoorsaam aan hulle. Sy moeder het al hierdie woorde in haar verstand, wil en emosie bewaar

52. en Yeshua het gegroei in liggaam, in wysheid en in aanvaarding by God en die mense.