hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 8 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit was na hierdie dinge dat Yeshua rondgereis het deur stede en dorpe en Hy het die boodskap verkondig, die Koninkryk van God aangekondig en die twaalf was saam met Hom,

2. asook vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Miryam, wat van Migdala gekom het, uit wie sewe demone uitgegaan het,

3. Yoganah, die vrou van Kuza, ’n kommissaris van Herodes, Shoshanah en baie ander wat Hom met hulle eie besittings bedien het.

4. Toe daar ’n groot groep mense vergader wat uit die verskillende stede na Hom toe gekom het, sê Hy vir hulle deur ’n vergelykende storie:

5. “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai en terwyl hy saai, val sommige aan die kant van die pad en is vertrap en ’n voël het dit opgeëet.

6. Ander saad het op die rots geval en onmiddellik ontkiem en toe verdroog omdat dit geen vog gehad het nie.

7. Ander saad het tussen die dorings geval en die dorings het saam gegroei en het dit versmoor.

8. Ander saad het in die goeie en uitstekende grond geval en ontkiem en honderdvoudige vrug gelewer.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ’n oor het wat wil hoor, laat hom luister!”

9. Sy studentevolgelinge het Hom gevra en gesê: “Wat is hierdie vergelykende storie?”Yes 6:9

10. Hy antwoord: “Aan julle is gegee om die geheime van die Koninkryk van God te ken, maar met die ander word deur vergelykende stories gepraat sodat hulle, kykende, nie sien nie en horende, nie verstaan nie.

11. Hierdie is die vergelykende storie: die saad is die boodskap van God.

12. Dié langs die pad is hulle wat hoor. Daarna kom die vyand en vat die boodskap uit hulle verstand, wil en emosie weg sodat hulle nie vertrou en sal lewe nie.

13. Dié op die rots is hulle wat die boodskap met vreugde ontvang wanneer hulle dit hoor, maar hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ’n tyd vertrou en in die tyd van toetsing val hulle weg.

14. Wat in die dorings geval het, is die wat gehoor het en hulle gaan weg en word versmoor deur die bekommernisse, rykdom en begeertes van die wêreld en dra geen vrugte nie.

15. Wat in die vrugbare grond val; dit is dié wat die boodskap met ’n skoon en goeie verstand, wil en emosie hoor en daaraan vashou en voortdurend vrugte dra met geduld.

16. Niemand steek ’n lamp aan en bedek dit met ’n houer of sit dit onder ’n bed nie, maar hy sit dit op ’n lampstaander sodat almal wat inkom, die lig kan sien,

17. want daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en openbaar word nie.

18. Wees daarom versigtig hoe julle luister, want wie ook al het, aan hom sal gegee word en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook dit wat hy dink hy het.”

19. Sy moeder en broers het na Hom toe gekom en weens die skare mense kon hulle nie met Hom praat nie.

20. Hulle sê vir Hom: “U moeder en U broers staan buite en wil U sien,”

21. maar Hy antwoord en sê vir hulle: “Hierdie is My moeder en My broers, hulle wat die boodskap van God hoor en dit doen.”

22. Dit was op een van dié dae dat Hy en Sy studentevolgelinge in ’n boot geklim en Hy vir hulle gesê het: “Laat ons oorgaan na die oorkant van die meer.”

23. Terwyl hulle seil, het Yeshua geslaap en daar was ’n stormwind oor die meer en die boot was in gevaar om te sink.Yes 51:15

24. Hulle het gekom en Hom wakker gemaak en gesê: “Ons Meester, ons Meester, ons word vernietig!” Hy het opgestaan en die wind en die golwe van die see bestraf en hulle het opgehou en daar het ’n kalmte gekom.

25. Hy sê vir hulle: “Waar is julle vertroue?” Hulle was egter in respekvolle vrees en verwonderd en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy dan dat Hy ook die winde en die water beveel en hulle gehoorsaam Hom!”

26. Hulle het geseil en aangekom in die gebied van die Gadareners, wat oorkant die Galil is.

27. Toe Hy uitklim op die land, kom ’n sekere man uit die stad na Hom toe, wat vir ’n lang tyd ’n demoon in hom gehad het, geen klere gedra het nie en ook nie in ’n huis gebly het nie, maar by die grafte.

28. Toe hy Yeshua sien, skree hy uit en val voor Hom neer en sê met ’n harde stem: “Wat het ek met U te doen, Yeshua, Seun van die Allerhoogste God? Ek smeek U, moet my nie straf nie,”

29. want Yeshua het die vuil gees beveel om uit die man uit te gaan. Dit was ’n lang tyd wat hy besete was en hulle het hom in kettings geboei en in voetboeie vasgemaak en hy het die kettings uitmekaar geruk en die demoon het hom na die wildernis gedryf.

30. Yeshua vra vir hom: “Wat is jou outoriteit en karakter?” Hy antwoord: “Legio,” want baie demone het in hom ingegaan.

31. Hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die bodemlose put in te gaan nie.

32. Daar was ’n groot trop varke wat op die berg gewei het en hulle smeek Hom dat Hy hulle sou toelaat om in hulle in te gaan en Hy het hulle toegelaat.

33. Die demone het uit die man uitgegaan, in die varke in en dadelik het die trop van die oorhangsel af in die meer ingestorm en verdrink.

34. Toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die omgewing gaan vertel.

35. Die manne het uitgegaan om te sien wat gebeur het en hulle het by Yeshua gekom en die man, uit wie die demone uitgegaan het, gesien sit by Yeshua se voete, aangetrek en by sy verstand en hulle het respekvol gevrees.

36. Die wat dit gesien het, het aan hulle vertel hoe die een wat deur demone beheer is, bevry is

37. en al die Gadareners het Hom gevra om van hulle af weg te gaan, want ’n groot vrees het hulle aangegryp. Yeshua het in die boot geklim en teruggegaan van hulle af weg.

38. Die man wat bevry is van die demone, het egter gepleit om by Hom te kan bly, maar Yeshua het hom laat gaan en gesê:

39. “Gaan terug na jou huis toe en vertel al die groot dinge wat God vir jou gedoen het.” Hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Yeshua vir hom gedoen het.

40. Toe Yeshua terugkom, het ’n groot skare mense Hom ontvang, want hulle het na Hom gesoek.

41. ’n Man met die naam van Ya’ir, hoof van die bymekaarkomplek, het voor die voete van Yeshua neergeval en Hom versoek om na sy huis toe te kom,

42. want sy enigste dogter, van ongeveer twaalf jaar oud, het op sterwe gelê. Terwyl Yeshua saam met hom gegaan het, het ’n groot skare mense om Hom aangedruk

43. en ’n sekere vrou, wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en alles wat sy het aan dokters uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,

44. het van agter af gekom en die bloulyn-soomtossel aan Sy kleed aangeraak en onmiddellik het haar vloei van bloed gestop.

45. Yeshua sê: “Wie het aan My geraak?” Toe almal dit ontken, sê Shim’on Kefa en die wat saam met hom was: “Ons Meester, die mense druk teen U aan en U sê: ‘Wie is dit wat aan My geraak het?’”

46. Hy sê: “Iemand het aan My geraak, want Ek weet dat krag vanaf My uitgegaan het.”

47. Toe die vrou sien dat dit nie Sy aandag ontsnap het nie, kom sy bang en val aanbiddend voor Hom neer en maak bekend voor al die mense waarom sy aan Hom geraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48. Yeshua sê vir haar: “Wees bemoedig, My dogter, jou vertroue het vir jou lewe gegee. Gaan in vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed.”

49. Terwyl Hy nog praat, kom daar ’n man van die huis van die hoof van die bymekaarkomplek af en sê vir hom: “U dogter is dood, moenie die Leermeester pla nie.”

50. Yeshua het dit gehoor en sê vir die vader van die meisie: “Moenie bang wees nie. Vertrou net en sy sal lewe.”

51. Yeshua het by die huis gekom en niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Shim’on, Ya’akov, Yoganan en die vader en moeder van die meisie

52. en almal het gehuil en oor haar getreur, maar Yeshua sê: “Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap.”

53. Hulle het vir Hom gelag, want hulle het geweet dat sy dood is.

54. Hy het almal uitgestuur na buite en haar aan haar hand vasgehou en na haar geroep en gesê: “Dogtertjie, staan op!”

55. Haar gees het teruggekom en sy het onmiddellik opgestaan. Hy het hulle beveel om vir haar kos te gee

56. en haar ouers was verstom, maar Hy het hulle gewaarsku om aan niemand te sê wat gebeur het nie.