hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 9 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Yeshua roep die twaalf en gee aan hulle krag en outoriteit oor al die demone en siektes om die siektes gesond te maak

2. en Hy het hulle uitgestuur om die Koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak

3. en vir hulle gesê: “Vat niks saam nie; geen staf of beursie vir die pad, of brood of geld nie en moenie twee kledingstukke by julle hê nie.

4. In watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan van dáár af uit

5. en as iemand julle nie ontvang nie, wanneer julle van daardie stad af weggaan, skud die stof van julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle.”

6. Die afgevaardigdes het uitgegaan na die dorpe en stede en in elke plek die goeie boodskap verkondig en siekes gesond gemaak.

7. Herodes, die heerser oor ’n kwart van die land, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is en hy was verwonderd daaroor omdat sommige gesê het dat Yoganan uit die dode opgestaan het,

8. maar ander dat Eliyahu verskyn het en ander dat een van die ou profete opgestaan het.

9. Herodes het gesê: “Yoganan het ek onthoof, maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” Hy het begeer om Hom te sien.

10. Toe die afgevaardigdes terugkom, het hulle aan Yeshua alles wat hulle gedoen het vertel en Hy het hulle alleen na ’n verlate plek in die streek van Beit-Tzaidah gevat,

11. maar toe die mense dit te wete kom, het hulle Hom gevolg en Hy het hulle ontvang en met hulle gepraat oor die Koninkryk van God en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.

12. Toe die dag einde se kant toe staan, kom Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir Hom: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpe en plase in die omtrek kan gaan om te oornag en vir hulleself kos kan kry, want ons is hier in ’n verlate plek.”

13. Yeshua sê vir hulle: “Gee julle vir hulle kos,” maar hulle sê: “Daar is nie meer as vyf brode en twee visse by ons nie, tensy ons kos gaan koop vir al hierdie mense,”

14. want daar was omtrent vyf duisend mans, maar Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Laat hulle in groepe van vyftig sit.”

15. Sy studentevolgelinge het dit so gedoen en almal laat sit.

16. Yeshua vat die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën dit, breek dit en gee dit aan die studentevolgelinge om aan die mense voor te sit

17. en hulle het almal geëet en is versadig en hulle het twaalf (12) mandjies vol van die oortollige stukke opgetel.

18. Toe Hy alleen was, besig om te bid, was die studentevolgelinge by Hom en Hy vra hulle en sê: “Wie sê die mense is Ek?”

19. Hulle antwoord en sê: “Yoganan, die Doper, ander weer Eliyahu, ander weer dat een van die ou profete opgestaan het.”

20. Hy sê vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Shim’on antwoord en sê: “Die Gesalfde Een van God!”

21. Hy het hulle ernstig gewaarsku om dit aan niemand te vertel nie.

22. Hy sê vir hulle: “Die Seun van die mens gaan baie ly en verwerp word deur die oudstes, leierpriesters en leraars van die wet, hulle sal Hom vermoor en op die derde dag sal Hy opstaan.”

23. Hy sê voor almal: “Wie ook al agter My aan wil kom, moet homself ontken en sy kruis elke dag opneem en My volg,

24. want wie sy lewe wil red, sal dit vernietig, maar hy wie se lewe om My ontwil vernietig word, hy sal dit red,

25. want watter voordeel is dit vir ’n mens as hy die hele wêreld verkry, maar sy lewe vernietig of verloor?

26. Wie hom ook al skaam vir My en My boodskap, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy in die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van Sy Vader en van die afgesonderde engele kom.

27. Ek sê vir julle in waarheid: daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Koninkryk van God gesien het nie.”

28. Dit het omtrent agt dae ná hierdie boodskap gebeur dat Hy vir Kefa, Yoganan en Ya’akov saamgeneem het teen ’n berg op om te bid

29. en terwyl Hy in gebed was, het die voorkoms van Sy gesig verander en Sy klere het glansend wit geword.

30. Let op, twee manne het met Hom gepraat, hulle was Moshe en Eliyahu.

31. Hulle het in die Gemanifesteerde Teenwoordigheid verskyn en oor Sy weggaan, wat in Yerushalayim vervul sou word, gepraat,

32. maar Kefa en die wat saam met hom was, was deur die slaap en het met moeite wakker geword en Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid gesien en die twee manne wat by Hom staan.

33. Terwyl hulle van Hom weggaan, sê Shim’on vir Yeshua: “Leermeester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie tente maak, een vir U, vir Moshe een en een vir Eliyahu.” Hy het nie geweet wat hy sê nie.

34. Nadat hy dit gesê het, kom daar ’n wolk en vorm ’n tent rondom hulle en hulle het bang geword toe hulle Moshe en Eliyahu in die wolk sien ingaan.

35. Daar kom ’n Stem uit die wolk wat sê: “Hierdie is My Seun vir Wie Ek lief is; luister na Hom!”

36. Ná die stem, was Yeshua alleen en hulle het stilgebly en aan niemand in daardie dae enige iets vertel van wat hulle gesien het nie.

37. Dit het gebeur dat, toe hulle die volgende dag van die berg afkom, ’n groot skare mense Hom ontmoet.

38. ’n Man roep vanuit die mense en sê: “Leermeester, ek smeek U, herstel my seun tot my, want hy is my enigste.

39. ’n Gees kom skielik oor hom en hy gil onverwags en kners op sy tande en hy word siek en dit gaan moeilik van hom af weg wanneer dit hom aanval

40. en ek het U studentevolgelinge gesmeek om hom uit te dryf en hulle kon nie.”

41. Yeshua antwoord en sê: “O, korrupte geslag sonder vertroue, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”

42. Toe hy naderkom aan Hom, gooi die demoon hom neer en laat hom inmekaartrek en Yeshua het die vuil gees bestraf, die seun genees en hom aan sy vader teruggegee.

43. Almal was verwonderd oor die majesteit van God. Toe almal verwonderd was oor alles wat Yeshua gedoen het, sê Hy vir Sy studentevolgelinge:

44. “Laat die boodskap insink wat ek in julle ore gee, want die Seun van die mens gaan oorgegee word in die hande van die mense.”

45. Hulle het egter nie verstaan wat gesê is nie omdat dit vir hulle verborge was sodat hulle dit nie sou verstaan nie en hulle was bang om Hom iets te vra daaroor.

46. Daar het ’n debat onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste was,

47. maar Yeshua, wat die oorwegings van hulle verstand, wil en emosie geken het, neem ’n seun en laat dié by Hom staan

48. en sê vir hulle: “Wie dan ’n kind soos hierdie ontvang in My Karakter en Outoriteit (Naam), ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het, want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.”

49. Yoganan antwoord en sê: “Ons Meester, ons het iemand gesien wat in U Karakter en Outoriteit (Naam) ’n demoon uitdryf en ons het hom verbied omdat hy U nie saam met ons volg nie.”

50. Yeshua sê vir hulle: “Moet hom nie verbied nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle.”

51. Toe die dae van Sy opgaan nader kom, het Hy Homself voorberei om na Yerushalayim te gaan

52. en boodskappers voor Hom uitgestuur. Hulle het vertrek en in ’n dorp in Shomron ingegaan om vir Hom voor te berei

53. en hulle het Hom nie ontvang nie omdat Hy op pad was Yerushalayim toe.

54. Toe Sy studentevolgelinge, Ya’akov en Yoganan, dit sien, sê hulle: “Ons Meester, wil U hê ons moet vuur van die hemel af roep en hulle verteer, net soos Eliyahu gedoen het?”2 Kon 1:9-16

55. Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: “Julle weet nie van watter gees julle is nie,

56. want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewens te vernietig nie, maar om lewe te gee.” Hulle het na ’n ander dorp gereis en

57. terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “My Meester, ek sal saam met U gaan, waar U ook mag gaan!”

58. Toe sê Yeshua vir hom: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel het neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy kop kan neerlê nie.”

59. Hy sê vir ’n ander een: “Kom, volg My,” maar hy antwoord: “My Meester, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.”

60. Yeshua sê vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan jy en kondig die Koninkryk van God aan.”

61. ’n Ander een sê vir Hom: “My Meester, ek sal U volg, maar laat my eers toe om tot siens te sê aan die kinders wat in my huis is.”Gen 19:26

62. Yeshua antwoord hom: “Niemand wat sy hand aan die ploeg of juk slaan en agtertoe kyk, is waardig vir die Koninkryk van God nie.”