Ou Testament

Nuwe Testament

Sefanja 1:9-18 Die Boodskap (DB)

9. Dit is ook nie vir die Here aanvaarbaar dat party van die mense net soos die heidene aanbid nie. Hy gaan hulle straf. Hy gaan ook die mense straf wat die koning ryk maak met die skatte wat hulle gekry het deur mense te beroof en te vermoor.

10. Die Here sê wanneer die tyd aanbreek om mense te begin straf, sal daar by ’n ingang van Jerusalem met die naam Vispoort mense wees wat sal skreeu omdat hulle bang en benoud is. Ook in die nuwer deel van die stad sal van die mense hartseer huil. Uit die heuwels in die omgewing sal ’n plofgeluid gehoor kan word soos die afgodsbeelde stukkend val.

11. Dit sal ook droewig gaan met mense wat in die besigheidsgebied van die stad bly, want die besigheidsmense gaan sterf.

12. Wanneer die Here sy beloofde straf gaan begin uitdeel, sal Hy niemand in Jerusalem laat wegkom nie. Hy sal al die arrogante mense en ook dié wat dink hulle het niemand nodig nie, uitsnuffel en straf. Hulle dink mos dat hulle hulle nie oor die Here hoef te bekommer nie, want hulle sê: “Hy doen tog niks, nie goed of kwaad nie.”

13. Maar hierdie arrogante mense se besittings sal gesteel word en hulle huise vernietig word. Dit sal nie help dat hulle huise bou nie, want hulle sal nie die plesier hê om daarin te bly nie. Dit is ook ’n hopelose saak vir hulle om wingerde aan te plant, want hulle sal nooit die kans kry om van die wyn te drink nie.

14. Dit gaan ’n vreeslike tyd wees wanneer die Here mense begin straf. Dit gaan gouer kom as wat mense dink. Dit gaan ’n baie slegte tyd wees. Selfs mense wat vir hulle dapperheid bekend is, sal van vrees skreeu.

15. Hoe lyk hierdie tyd? Dit is ’n tyd waarin mense sal sien dat die Here kwaad is. Juda se mense gaan baie swaarkry en deur vrees verlam word. ’n Mens kan dit beskryf as ’n tyd waarin dinge verwoes en vernietig sal word, ’n donker tyd in Juda se geskiedenis.

16. Die mense kruip in hulle stede weg wat ommuur en versterk is om hulle teen hulle vyande te beskerm. Maar wanneer hulle die trompette hoor blaas en die vyandelike soldate hoor skree, sal hulle weet dat dit oorlog is.

17. Hulle sal so bang wees dat hulle heeltemal deurmekaar en onseker sal voel. Dit alles sal gebeur omdat hulle sonde doen. Die Here hou niks daarvan nie. Hy sal hulle laat doodgaan, want Hy dink dat hulle lewe minder werd is as sand of mis.

18. Wanneer die tyd aanbreek dat die Here hulle gaan straf, sal al hulle rykdom hulle niks help nie. Hulle sal hulleself nie uit die moeilikheid kan loskoop nie. Sy woede sal soos ’n vuur wees wat alles verbrand wat voorkom. In een oomblik sal Hy al die mense op aarde uitwis.

Lees volledige hoofstuk Sefanja 1