Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:33-48 Die Boodskap (DB)

33. Die Here is die God van Israel. Hy sê: “Babel is soos die plek waar die koring bewerk word. Die gebruik is om die koring met die voete te trap. Dit is wat met Babel gaan gebeur. Babel gaan soos koring geoes en vertrap word.”

34. Van Babel word gesê: “Nebukadnesar, die koning van Babel, het ons geëet en verpletter. Hy het al ons krag getap en ons leeg laat voel. Hy het ons soos ’n groot monster ingesluk. Hy het sy maag met ons skatte volgemaak. Hy het ons uit ons eie land gegooi.”

35. Die mense van Jerusalem sê: “Mag Babel terugbetaal word vir al die geweld wat ons moes deurgaan. Mag die skuld vir ons dood op die Babiloniërs afkom! Ons hoop hulle gaan swaar daarvoor betaal.”

36. Die Here sê vir die mense van Juda: “Ek belowe dat Ek julle saak sal opneem. Ek sal ook sorg dat Babel betaal vir wat hulle aan julle gedoen het. Die mense van Babel is afhanklik van die Eufraatrivier en fonteine vir water om van te leef. Ek sal dit laat opdroog.

37. Babel sal ’n hoop bourommel word. Die jakkalse sal dit hulle lêplek maak. Mense wat die verskriklike toestand van die plek sien, sal van skok na hulle asem snak. Niemand sal meer daar bly nie.

38. Die Babiloniërs gaan woes te kere en brul soos leeus. Hulle grom soos leeuwelpies.

39. Terwyl hulle nog so warm is van die wyn, sal Ek vir hulle ’n ander fees hou. Ek sal hulle laat drink totdat hulle baie vrolik is en aan die slaap raak. Hulle sal aanhou slaap en nooit weer wakker word nie.

40. Ek sal hulle bring om soos lammers, ramme en bokke geslag te word.”

41. Die Here sê: “Hoe verskriklik is Babel se val nie! Babel was vroeër op almal se lippe. Die stad wat deur almal in die wêreld geloof is as so wonderlik is deur vyande ingeneem. Nou skok dit ander volke as hulle die toestand sien waarin Babel is.

42. Dit is of die see opgestoot en oor Babel gespoel het. Die stad lê toe onder die golwe.

43. Ook die stede rondom Babel is in ’n vreeslike toestand. Die land is droog en lyk soos ’n woestyn. Niemand bly meer in die stede of gaan selfs daar naby verby nie.

44. Ek sal Bel, die god van Babel, straf. Ek sal alles terugvat wat hy van ander mense opgeslurp het. Die nasies sal nie meer kom om hom te dien nie. Babel se mure het geval, die stad is nou in die hande van die vyand.”

45. Die Here sê vir die mense van Juda: “Maak dat julle wegkom uit Babel! Vlug vir julle lewe! Die Here is baie kwaad en gaan die stad tref.

46. Moenie bang wees en angstig word as julle die eerste nuus in die land hoor van moeilikheid wat kom nie. Elke jaar sal daar sulke stories loop van geweld en van leiers wat teen mekaar baklei.

47. Die tyd kom dat Ek Babel se afgode gaan straf. Die hele land en sy mense sal verneder word. Dit sal so erg wees dat die lyke sommer oral tussen hulle sal rondlê.

48. Die leërs van die gewelddadige vyand sal uit die noorde teen Babel optrek. Wanneer dit gebeur, sal die hemel en die aarde en almal wat daarin is, sing van blydskap oor wat met Babel gebeur.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51