Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Maar sê nou die man wat aangestel is om op die uitkyk te wees vir vyande doen nie sy werk nie; sê nou hy sit en slaap; of hy loop rond en doen nie sy werk nie; die vyand val die land binne, maar die man waarsku nie sy volk nie, dan is hierdie man verantwoordelik as iemand deur die vyand doodgemaak word. Die mense wat doodgemaak word, gaan dood omdat Ek hulle vir hulle slegte dade straf. Maar hierdie man sal moet betaal vir die feit dat die mense dood is, want hy het nie sy werk gedoen nie.

7. “Esegiël, Ek stel jou aan om wag te hou. Jou werk is om te kyk of daar nie ’n vyand aankom wat die land gaan aanval nie. Jou werk is om op die uitkyk te wees en jou volk te waarsku. Jy moet fyn luister na wat Ek sê. En dan moet jy hierdie volk namens My gaan waarsku.

8. Ek gaan dalk vir jou sê dat daar mense is wat aanhou om slegte dinge te doen en dat Ek hulle daarvoor gaan straf. As jy hierdie mense nie waarsku dat hulle moet ophou met slegte dinge en goeie dinge moet begin doen nie, sal hulle doodgemaak word. Ek sal dit doen. Maar jy sal moet betaal omdat hulle dood is, want jy het nie jou werk gedoen nie.

9. Maar as jy hulle waarsku en vir hulle sê wat Ek jou beveel en hulle hulle nie daaraan steur nie, sal hulle doodgemaak word. As hulle nie omdraai en agter My aanloop nadat jy hulle in my Naam gewaarsku het nie, sal Ek hulle straf. Maar jy sal nie gestraf word vir hulle dood nie, want jy het gedoen wat Ek jou beveel het.

10. “Mens, sê vir die volk Israel wat Ek sê: Julle hou aan met kla dat julle swaar gestraf word. Julle sê julle slegte dade kom op julle eie koppe af. Dit gaan sleg met julle. ‘Ons vergaan,’ sê julle. ‘Ons kan nie só aanhou leef nie!’

11. “So seker as wat Ek leef,” sê die Here, Esegiël se God, “dis nie vir My lekker om mense dood te maak nie. Maar as mense aanhou om slegte dinge te doen en Ek hulle daaroor gewaarsku het, het Ek geen ander keuse as om hulle dood te maak nie. Ek wil so graag hê hulle moet omdraai en agter My aanloop. Ek wil so graag sien dat hulle begin doen wat Ek sê. Dan sal hulle leef! Daarom, draai dadelik om, my volk. Draai weg van jou slegte paaie af. Hoekom tart julle My? Hoekom wil julle hê Ek moet geen ander keuse oorhê as om julle te straf en dood te maak nie?”

12. “Mens, sê vir hierdie klomp mense Ek sê: As mense goedgedoen het, maar dan ophou daarmee en slegte dinge begin doen, sal hulle goeie dade hulle nie red nie. As ’n mens weier om te doen wat Ek hom beveel om te doen, sal Ek hom straf. En as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en omdraai en agter My aanloop, sal Ek hulle nie straf vir hulle slegte dade nie. Nee, hulle sal lewe omdat hulle begin doen het wat Ek sê.

13. Sê nou daar is mense wat reg doen en Ek het vir hulle gesê dat hulle sal lewe, maar hierdie mense begin dan slegte dinge doen. Hulle dink dalk dat Ek hulle steeds sal laat bly lewe. Hulle dink dat die goeie wat hulle gedoen het, hulle steeds sal red. Maar Ek sê vir jou: Ek sal niks onthou van al die goeie dade wat hulle gedoen het nie. Ek sien net die slegte raak wat hulle nou doen.

14. En sê nou maar daar is mense wat sleg is en aanhou om die slegte te doen. En dan waarsku Ek hulle dat hulle doodgemaak sal word omdat hulle so sleg is. Maar hierdie mense draai dan om en doen nie meer verkeerde dinge nie. Hulle doen wat Ek sê.

15. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33