Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:12-30 Die Boodskap (DB)

12. Ek sal in daardie nag deur Egipte trek. Deur die hele Egipte sal Ek in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit sal met die mense sowel as die diere gebeur. Ek sal met die gode van Egipte afreken, want Ek is die Here.

13. Die bloed wat julle aan die kosyne van julle huise gesmeer het, sal vir My ’n teken wees om julle uit te ken. Wanneer Ek dit sien, sal Ek by daardie huis verbygaan. Ek sal julle spaar van die ramp waarmee Ek die hele Egipte gaan tref.”

14. “Elke jaar wanneer julle hierdie fees hou, moet julle onthou wat in Egipte gebeur het. Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees wat julle elke jaar gebruik om fees te vier vir die Here.

15. Sewe dae lank moet julle brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Reeds op die eerste dag van die fees moet julle alles wat suurdeeg in het, uit julle huise wegvat. As enigeen gedurende hierdie sewe dae brood eet wat met suurdeeg gemaak is, moet hy weggejaag word.

16. Op die eerste en die laaste dag van die fees moet julle bymekaarkom om vir die Here kerk te hou. Op daardie dae mag julle glad nie aangaan met julle gewone werk nie. Julle mag wel op daardie dae vir julleself kos gaarmaak.

17. “Julle moet elke jaar hierdie fees hou wanneer julle brode eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Julle moet onthou dat dít die dag is waarop Ek julle families uit Egipte laat wegtrek het. Die dag moet onder julle nasate ’n dag wees waarop hulle jaar na jaar in herinnering roep wat Ek vir julle in Egipte gedoen het.

18. Vanaf die aand van die veertiende dag van daardie eerste maand, tot op die aand van die 21ste dag mag julle nie brood eet met suurdeeg in nie.

19. Vir hierdie sewe dae mag daar nie ’n krieseltjie suurdeeg in enige van julle huise wees nie. As enigiemand, of hy iemand is wat van ’n ander land kom en of hy van geboorte ’n Israeliet is, in hierdie tyd enigiets met suurdeeg in eet, moet julle hom van julle af wegjaag.

20. Niemand mag iets eet waarin daar suurdeeg is nie. Oral waar julle woon, moet julle dan brood eet wat sonder suurdeeg is.”

21. Moses het die leiers van Israel bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan kry nou vir elke gesin ’n lam sodat julle dit vir die paasfees kan slag.

22. Julle moet die bloed in ’n bak opvang. Doop ’n takkie van ’n hisopboom in die bloed en verf daarvan aan die bokant en die sykante van julle huise se deurkosyne. Niemand mag uit sy huis uit weggaan voor die volgende oggend nie.

23. Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie.

24. “Julle moet altyd onthou wat daar gebeur het. Julle en julle kinders moet elke jaar op daardie dag terugdink aan wat daar in Egipte gebeur het.

25. Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan.

26. Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou,

27. moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid.

28. Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

29. Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek.

30. Die farao en al sy belangrikste mense en al die mense wat in Egipte bly, het daardie nag uit die bed uit opgestaan. ’n Hartverskeurende gehuil kon deur die hele Egipte gehoor word. Daar was nie een enkele huis waarin daar nie daardie nag iemand dood is nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12