Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:18-35 Die Boodskap (DB)

18. Hulle het deur Midian by Paran aangekom. Daar het ander mense ook by hulle aangesluit en hulle is saam daar weg. Toe hulle in Egipte aankom, is hulle reguit na die koning toe. Die koning het vir Hadad ’n stuk grond met ’n huis gegee en hom van kos voorsien.

19. Hadad en die koning het goeie vriende geword. Die koning het selfs sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes, vir Hadad as vrou gegee.

20. Sy het vir Hadad ’n seun gegee wat hy Genubat genoem het. Genubat is deur die koningin grootgemaak en het net soos die ander seuns van die koning geleef.

21. Toe Hadad hoor dat Dawid en Joab albei dood is, het hy vir die koning gesê: “Laat my asseblief na my land teruggaan.”

22. “Hoekom wil jy teruggaan?” het die koning verbaas gevra. “Het ek dan iets verkeerds gedoen?” “Nee,” het Hadad gesê, “laat my asseblief net gaan.” Hadad is daar weg. Hy het toe die koning van Edom geword. Hadad het Israel gehaat.

23. Reson seun van Eljada het hom ook teen Salomo verset. Reson het vir koning Hadad-Eser van Soba gewerk, maar op ’n dag het hy in opstand gekom en is van die koning af weg.

24. Dit het in die tyd gebeur toe Dawid vir Hadad-Eser verslaan en sy Siriese bondgenote vernietig het. Reson en sy manne is toe vinnig daar weg en het in Damaskus gaan bly. Daar het hulle hom koning van Sirië gemaak.

25. Reson het Israel gehaat en was ’n geswore vyand van Salomo.

26. Nog iemand wat teen Salomo gerebelleer het, was Jerobeam. Hy was die seun van Nebat, ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee.

27. Salomo het die oostekant van Jerusalem met grond opgevul en was besig om die stadsmuur te herstel.

28. Jerobeam het ook daar gewerk. Hy was jonk, ambisieus en hardwerkend. Salomo het dit raakgesien en Jerobeam oor die dwangarbeiders aangestel. Hy moes die mense van Manasse en Efraim (dit is die Josefstam) dwing om vir Salomo te werk.

29. Op ’n dag was Jerobeam uit Jerusalem na die noorde op pad toe hy skielik die profeet Agija van Silo raakloop. Hulle het lank alleen in die oop stuk veld gestaan en gesels.

30. Agija het sy nuwe mantel uitgetrek en dit in twaalf stukke begin skeur.

31. “Vat vir jou tien stukke,” het hy vir Jerobeam gesê. “Die Here, die God van Israel, sê vandag vir jou: ‘Ek is op die punt om Salomo se koninkryk van twaalf stamme van hom af weg te skeur en tien daarvan vir jou te gee.

32. Salomo se koninkryk sal dan uit net een stam, die stam van Juda, bestaan. Ter wille van Dawid, en omdat Ek Jerusalem bo alle plekke gekies het om in te woon, sal Salomo se nageslag oor hierdie een stam regeer.

33. Ek doen al hierdie dinge omdat Salomo My nie meer liefhet nie. Hy het ander gode begin aanbid. Gode soos Astarte die godin van Sidon, Kemos die god van Moab en Milkom die god van Ammon. Salomo het nie meer na My geluister nie. Hy het nie soos sy pa, Dawid, volgens my wil geleef nie.

34. Terwyl Salomo nog leef, gaan daar niks gebeur nie. Sy koninkryk sal nie tydens sy regering verdeel word nie. Ek doen dit ter wille van Dawid wat Ek gekies het, wat vir My lief was en wat na my gebooie en wette geluister het.

35. Na Salomo se dood sal Ek die koninkryk van sy seun Rehabeam verdeel en tien stamme vir jou gee.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11