Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:1-17 Die Boodskap (DB)

1. Jesus het daarna deur al die dorpe en klein plekkies gestap waar mense gebly het, en vir hulle die goeie nuus vertel dat God se nuwe wêreld hier is. Die twaalf dissipels het oral saam met Hom gegaan.

2. ’n Klompie vroue wat deur Jesus van bose geeste vrygemaak is en ’n paar ander wat deur Hom gesond gemaak is, het ook saam met hulle van plek tot plek gestap. Een van hierdie vroue se naam was Maria. (Sy is ook Magdalena genoem omdat sy van die dorp Magdala afkomstig was.) Jesus het sewe duiwels uit haar verdryf.

3. Johanna, die vrou van Gusa, een van die belangrike amptenare in Herodes se paleis, was ook onder hulle. So ook Susanna en ’n klompie ander vroue. Met hulle eie geld het hierdie vroue vir Jesus en sy dissipels kos gekoop en ook gesorg dat hulle slaapplek het.

4. ’n Groot klomp mense het van oral af na Jesus toe gestroom. Hy het toe vir hulle die volgende verhaal vertel:

5. “Eendag was daar ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad oor die grond uitgestrooi. ’n Deel van die saad het toe op die voetpad beland wat deur die land loop. Dit is deur mense stukkend getrap. Die voëls het toe haastig daarop toegesak en alles opgeëet.

6. Van die ander saad het op die groot klippe in die land geval. In die holtes van hierdie klippe was daar ’n bietjie grond. Die saad wat hier beland het, het vinnig opgekom, maar die plantjies kon nie behoorlik wortelskiet in die vlak grond nie. Daarom het die son hulle gou doodgebrand.

7. Van die ander saad wat die boer gesaai het, het tussen die doringbosse beland wat in die land gegroei het. Soos die doringbosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk.

8. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Dit het goed gegroei en ’n groot oes gegee wat die boer se stoutste verwagtings oortref het.“Julle moet julle ore oopmaak en luister na wat Ek vir julle sê,” sê Jesus toe vir die mense.

9. Toe vra sy dissipels Hom: “Wat beteken hierdie verhaal wat U nou vir ons vertel het?”

10. Jesus sê toe vir hulle: “As julle mooi na al my verhale luister, sal julle sommer baie oor God leer. Dan sal julle agterkom hoe dinge in sy splinternuwe wêreld werk. Julle sal dinge hoor wat julle nog nie geweet het nie. Maar daardie mense wat nie wil luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld vertel nie, sal dit nooit verstaan nie. Vir hulle is my verhale maar net ’n klomp leë stories. Hulle kyk, maar sien nie. En hulle hoor, maar begryp niks nie.”

11. “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan: Die saad ... Dit is die boodskap oor God se nuwe wêreld.

12. “Die saad wat op die voetpad geval het ... Wel, dit is die mense wat na die boodskap oor God se nuwe wêreld luister, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Die duiwel sorg dat hulle baie gou vergeet wat hulle gehoor het sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Net soos die voëls met die saad gedoen het, kom ‘pik’ die duiwel die goeie saad uit hulle gedagtes uit.

13. “Daar het ook saad in die holtes van die groot klippe geval ... Wel, party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net vir ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle vra, sodra hulle moet nee sê vir die sonde, is hulle skielik nie meer so opgewonde nie. Dan is hulle sogenaamde nuwe geloof ook daarmee heen.

14. “Ander saad het tussen die doringbosse beland ... Dit is daardie mense wat God se woord aanvaar. Maar kort voor lank word die eise van hierdie wêreld vir hulle belangriker as hulle geloof. Bo en behalwe al hulle bekommernisse, kry die alewige gejaag na geld en plesier dan voorkeur in hulle lewens. Dan het hulle later niks meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Al hierdie dinge verdring hulle geloof uit hulle lewens uit.

15. “En dan die saad wat in die goeie grond geval het ... Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.”

16. Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan.

17. “’n Mens kan niks wegsteek wat jy doen nie. Geen woord of daad is so ’n groot geheim dat God nie daarvan weet nie. Alles sal aan die lig kom. Alles wat mense doen, sal uiteindelik bekend wees.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8