Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 5:11-24 Die Boodskap (DB)

11. Moenie jonger weduwees se name op die lys sit nie. Hulle kan dalk weer trou, want as hulle ’n man begin begeer, kan dit dalk vir hulle belangriker word as om die Here te dien. Dan doen hulle dalk nie meer alles wat die Here van hulle verwag nie.

12. Dan kan mense hulle dalk verwyt omdat hulle hulle woord verbreek het.

13. Boonop kan hulle maklik in die strik trap om net van die een huis na die ander te kuier en eintlik niks te doen nie. As hulle heeldag so rondkuier, mors hulle nie net hulle tyd nie, maar skinder vreeslik en meng hulle in met sake wat niks met hulle te doen het nie. Dan sê hulle ook gewoonlik dinge wat hulle liewer nie moes gesê het nie.

14. Daarom is dit vir my ’n baie beter oplossing dat die jonger weduwees weer moet trou, kinders moet hê en hulle huis behoorlik aan die gang moet hou. Dan sal die mense wat nie van die kerk hou nie, nie allerhande lelike dinge oor hulle kan sê nie.

15. So terloops, daar is al ’n paar weduwees wat so die pad byster geraak het en nou agter Satan aanloop.

16. As ’n Christenvrou weduwees in haar huis het, moet sy self na hulle kyk. Sy moet nie verwag dat die res van die gemeente moet help nie. So sal die gemeente net na die weduwees hoef te kyk wat regtig niemand het om vir hulle te sorg nie.

17. Die gemeente moet vir die leiers in die gemeente wat mooi na die sake van die gemeente kyk behoorlik dankie sê, veral as hulle vir ander van die Here vertel en hulle help om al hoe meer van God se dinge te verstaan. Hulle moet hulle selfs betaal.

18. In die Skrif staan daar mos: “Jy moenie die bees se bek toebind wat besig is om jou met jou koringoes te help nie,” en: “Iemand wat werk, mag ook geld kry vir die werk wat hy doen.”

19. Moenie julle aan allerhande stories oor ’n leier in die gemeente steur nie, tensy dit bevestig word deur twee of drie ander mense.

20. As iemand iets verkeerds gedoen het, moet daar voor almal streng met hom oor sy fout gepraat word. Dit sal ander help om nie dieselfde fout te maak nie.

21. Ek vra jou baie mooi, maar tog baie ernstig voor God, Jesus Christus en al die hemelse wesens: as jy teen ’n leier van die gemeente optree, moet jy niemand voortrek nie. Dat jy miskien van een meer hou as van ’n ander, mag nie by jou ’n rol speel nie. Jy moet almal gelyk behandel.

22. Moenie te gou sê dat iemand maar ’n leier in die gemeente kan word nie. Sê nou net sy lewe is nie reg nie en hy doen verkeerde dinge, dan sal die mense daaruit aflei dat jy dit goedkeur. Nee, jy moet op alle maniere uit die pad van die sonde bly.

23. Jy hoef nie net water te drink nie. Jy kan maar ook ’n bietjie wyn drink vir jou maag en al die ander kwale wat jy kort-kort het.

24. In die gemeente werk dit so: party mense doen sommer oop en bloot dinge waarvan God nie hou nie. Almal weet daarvan nog voor die saak behoorlik ondersoek is. Ander doen dit weer stilletjies en in die geheim. ’n Mens hoor eers later daarvan as dit ondersoek word.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 5