Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:14-34 Bybel vir Almal (ABA)

14. En dadelik toe die koning van Ai die Israeliete sien, het die manne van die stad gereedgemaak en uitgegaan om die Israeliete aan te val. Die koning en sy manne het die Israeliete in die Jordaan-vallei gaan aanval. Hy het nie geweet dat party Israeliete agter die stad weggekruip het nie.

15. Dit het gelyk of Josua en al die Israeliete die oorlog verloor, hulle het na die woestyn gevlug.

16. Die koning van Ai het al die manne wat nog in die stad was, laat kom om die Israeliete te volg en te jaag. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle verder en verder van die stad gegaan.

17. Nie een man het in die stede Ai en Bet-El oorgebly nie, hulle het almal die Israeliete gevolg en gejaag en hulle het die stad oop gelos.

18. Toe sê die Here vir Josua: “Tel jou spies op en wys daarmee na Ai, want Ek gee die stad vir jou.”Josua het sy spies opgetel en hy het na die stad gewys.

19. Toe hy dit doen, het die manne wat weggekruip het, vinnig opgestaan en hulle het in die stad ingegaan. Hulle het die stad oorwin en dit gevat. Hulle het die stad dadelik aan die brand gesteek.

20. Toe die manne van Ai omkyk, sien hulle die rook uit die stad gaan op in die lug. Hulle wou vlug, maar hulle kon nie, want die Israeliete wat na die woestyn gevlug het, het omgedraai en hulle het die manne aangeval wat hulle gevolg en gejaag het.

21. Josua en al die Israeliete het gesien dat die manne wat weggekruip het, die stad oorwin en gevat het, en dat daar rook uit die stad trek. Hulle het omgedraai en hulle het die manne van Ai aangeval.

22. Die Israeliete wat in die stad was, het ook uitgekom om die manne van Ai aan te val. Daar was nou Israeliete voor die manne van Ai en ook agter hulle. Die Israeliete het al die manne van Ai doodgemaak, daar het nie een aangehou lewe nie en nie een kon vlug nie.

23. Die Israeliete het die koning van Ai lewendig gevang en hulle het hom vir Josua gebring.

24. Die Israeliete het almal doodgemaak wat in die stad gewoon het, ook almal wat hulle buite die stad en in die woestyn gekry het, daar het nie een van hulle aangehou lewe nie. Daarna het al die Israeliete teruggekom na die stad Ai en hulle het die stad aangeval.

25. Die mense van Ai wat daardie dag gesterf het, mans en vroue, was almal saam 12 000.

26. Josua het die spies in sy hand gehou, en hy het nie sy hand laat sak nie, hy het eers gewag totdat die Israeliete almal in die stad doodgemaak het.

27. Die Israeliete het net die diere en die goed van die stad vir hulleself gevat. Die Here het vir Josua gesê hulle mag dit doen.

28. Josua het die stad Ai laat verbrand. Dit is tot vandag net ’n hoop klippe, en daar woon niemand nie.

29. Hy het die koning van Ai opgehang aan ’n boom. Toe die son daardie aand ondergaan, het Josua gesê hulle moet die lyk afhaal van die boom. Hulle het dit gedoen en hulle het die lyk in die poort van die stad gegooi. Hulle het dit met ’n groot hoop klippe toegegooi. Die klippe is nou nog daar.

30. Josua het vir die Here, die God van Israel, ’n altaar gebou op Ebal-berg.

31. Dit was ’n altaar van heel klippe, dit was nie klippe wat mense gekap het nie. Moses het vir die Israeliete gesê dat hulle dit so moet bou, en dit is geskryf in die Wetboek van Moses. Die Israeliete het vir die Here brand-offers op die altaar ge-offer en hulle het ete-offers ge-offer.

32. Josua het die Wette van Moses oorgeskryf op die klippe. Die Israeliete het gesien dat hy dit skryf.

33. Al die Israeliete was daar, saam met hulle leiers, hulle voormanne en hulle regters. Hulle het langs die twee kante van die kis gestaan, voor die Levi-priesters wat die kis van die Here moes dra. Daar was vreemdelinge saam met die Israeliete. Die een helfte van die mense het voor Gerisim-berg gestaan en die ander helfte van die mense het voor Ebal-berg gestaan. Moses, die dienaar van die Here, het voorheen gesê hulle moet dit doen sodat hulle die volk Israel kan seën.

34. Josua het toe alles gelees wat in die wette geskryf is oor wanneer die Here mense seën of vervloek. Hy het alles gelees wat daaroor geskryf is in die Wetboek.

Lees volledige hoofstuk Josua 8