hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 23 Bybel vir Almal (ABA)

Josua praat met die volk

1. Dit was ’n lang tyd nadat die Here die Israeliete laat wen het teen al hulle vyande rondom hulle. Josua was baie oud.

2. Josua het al die Israeliete geroep, die leiers, die hoofde, die regters en die voormanne, en hy het vir hulle gesê: “Ek is baie oud.

3. Julle het self alles gesien wat julle God die Here vir julle gedoen het met hierdie volke. Want julle God die Here, Hy self het oorlog gemaak sodat julle die vyande kon oorwin.

4. Julle weet dat ek hierdie grond vir julle stamme gegee het, die grond van die Jordaan-rivier tot by die Groot See in die weste. Dit was voorheen die grond van die volke wat ek doodgemaak het, en ook van volke wat nog hier is.

5. Julle God die Here, Hy self sal die volke wat nog hier is, wegstoot en wegjaag om plek te maak vir julle. Julle God die Here het dit vir julle belowe.

6. Maar julle moet baie sterk wees, julle moet alles doen wat geskryf is in die Wetboek van Moses, julle moet presies so lewe.

7. Julle moenie vriende word van die volke wat nog hier by julle is nie. Julle moenie tot hulle gode bid en hulle name noem wanneer julle iets belowe nie. Julle moenie hulle dien en voor hulle buig nie.

8. Julle moet aanhou om die Here te dien, soos julle gedoen het tot nou toe.

9. Die Here het groot en sterk volke weggejaag om plek te maak vir julle. Nie een volk kon tot vandag toe vir julle oorwin en teen julle bly staan nie.

10. Een van julle manne kan 1 000 vyande jaag, want julle God die Here, Hy self het vir julle gehelp om oorlog te maak, Hy het dit vir julle belowe.

11. Maar julle moet baie versigtig wees, julle moet lief wees vir julle God die Here.

12. Julle moenie ophou om die Here te dien nie en julle moenie vriende word van die mense van hierdie volke wat nog hier is nie. Julle moenie met hulle trou nie en julle moenie by hulle kom nie.

13. As julle dit doen, dan moet julle weet dat die Here sal ophou om hierdie volke weg te jaag om plek te maak vir julle, dit is seker. En dan sal hulle vir julle word soos vangnette en vangstrikke, soos swepe wat julle slaan en dorings wat in julle oë steek. Dit sal aanhou totdat julle weg is uit hierdie goeie land wat julle God die Here vir julle gegee het.

14. Luister na my, ek sal nou sterf, dit is die pad wat almal op die aarde moet loop. Julle weet baie goed dat al die goeie dinge gebeur het wat julle God die Here vir julle belowe het. Elke woord wat Hy gesê het, het waar geword.

15. Die goeie dinge het gebeur wat julle God die Here vir julle belowe het, maar as julle ongehoorsaam is, dan sal Hy ook elke slegte ding laat gebeur wat Hy gesê het. Dit sal aanhou totdat Hy julle almal laat verdwyn het uit hierdie goeie land wat Hy vir julle gegee het.

16. As julle nie doen wat julle God die Here vir julle in sy verbond gesê het nie en as julle ander gode gaan dien en julle buig voor hulle, dan sal die Here kwaad word vir julle en julle sal gou verdwyn uit die goeie land wat Hy vir julle gegee het.”