hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 14 Bybel vir Almal (ABA)

Die ander stamme kry grond wes van die Jordaan-rivier

1. Hier is die grond wat die Israeliete in die land Kanaän gekry het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun en die familiehoofde van die stamme van die Israeliete het die grond vir hulle gegee.

2. Hulle het lootjies getrek om vir elkeen van die nege en ’n halwe stamme sy grond te gee. Die Here het vir Moses gesê hulle moet dit doen.

3. Moses het vir die ander twee en ’n halwe stamme grond gegee oos van die Jordaan-rivier, maar hy het nie vir die Leviete grond gegee saam met die ander stamme nie.

4. Daar was 13 stamme, want die nageslag van Josef was twee stamme, Manasse en Efraim, maar net twaalf stamme het grond gekry, want hulle het nie vir die Leviete ’n deel van die land gegee nie. Die Leviete het net stede gekry waar hulle kon woon en hulle het ook weiveld vir hulle diere gekry.

5. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses gesê het, hulle het die land verdeel.

Kaleb kry die stad Hebron

6. Toe die mense van Juda by Josua in Gilgal kom, het Kaleb, seun van Jefunne, ’n Kenissiet, vir Josua gesê: “Jy wéét wat die Here in Kades-Barnea oor my en jou gesê het. Die Here het dit vir Moses, die man van God, gesê.

7. Ek was 40 jaar oud toe Moses, die dienaar van die Here, vir my van Kades-Barnea gestuur het om te kyk hoe die land is. Ek moes eerlik vir hom kom sê wat ek gesien het.

8. Die manne wat saam met my gegaan het, het dinge gesê wat die mense bang gemaak het, maar ek self het aangehou om my God die Here te dien.

9. Moses het daardie dag vir my belowe en hy het gesê die Here is die getuie. Moses het gesê: ‘Die land wat jy gesien het, sal altyd jou land en jou nageslag se land wees omdat jy aangehou het om die Here te dien.’

10. Daarom, die Here het my laat aanhou lewe hierdie 45 jaar nadat die Here dit vir Moses gesê het toe die Israeliete deur die woestyn geloop het. Ek is nou 85 jaar oud,

11. maar ek is nou nog so sterk soos die dag toe Moses my gestuur het. Ek het nou nog die krag wat ek toe gehad het, ek kan nog oorlog maak en ek gaan en kom soos ek wil.

12. En nou moet jy vir my hierdie bergland gee wat die Here daardie dag belowe het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enak-mense woon en dat daar groot stede is wat sterk mure het. Miskien sal die Here my help sodat ek hulle kan oorwin, die Here het dit belowe.”

13. Josua het vir Kaleb seun van Jefunne geseën en hy het vir Kaleb die stad Hebron gegee.

14. Dit is hoekom Hebron nou nog behoort aan Kaleb seun van Jefunne, dit is sy stad omdat hy aangehou het om die Here, die God van Israel, te dien.

15. Die naam van die stad Hebron was voorheen Kirjat-Arba, Arba was ’n groot Enak-man. Daar was toe nie weer oorlog in die land nie, die land het gerus.