hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 21 Bybel vir Almal (ABA)

Die Leviete se stede

1. Die familiehoofde van die Leviete het gekom na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die familiehoofde van die Israelitiese stamme toe.

2. Die familiehoofde het met hulle gepraat in die stad Silo, in die land Kanaän. Hulle het gesê: “Die Here self het vir Moses gestuur om te sê dat ons stede moet kry waar ons kan woon, en ook weiveld vir ons diere.”

3. Die Israeliete het toe gedoen soos die Here gesê het. Hulle het vir die Leviete stede gegee, stede saam met weivelde.

4. Hulle het lootjies getrek, en die Kehat-familie het hulle grond gekry. Hulle het vir die priesters van die nageslag van die priester Aäron 13 stede gegee in die lande van die stamme Juda, Simeon en Benjamin.

5. Hulle het vir die ander Leviete van die Kehat-familie tien stede gegee in die lande van die stamme Efraim, Dan en die halwe Manasse-stam.

6. Hulle het vir die Gerson-familie 13 stede gegee in die lande van die stamme Issaskar, Aser, Naftali en die halwe Manasse-stam wat in Basan woon.

7. Hulle het vir die Merari-familie 12 stede gegee in die lande van die stamme Ruben, Gad en Sebulon.

8. Die Israeliete het lootjies getrek om die stede saam met hulle weivelde vir die Leviete te gee. Die Here het vir Moses gestuur om dit te sê.

9. Hier is die name van die stede wat hulle vir die Leviete gegee het in die lande van die stamme Juda en Simeon.

10. Hulle het eers lootjies getrek, en die Leviete van die nageslag van Aäron wat aan die Kehat-familie behoort het,

11. het hulle grond gekry. Hulle het vir hierdie Leviete gegee die stad Kirjat-Arba in die Juda-berge, die stad en sy weivelde. Kirjat-Arba se ander naam was Hebron. Arba was die voorvader van die Enak-mense.

12. Maar Kaleb seun van Jefunne het die koringlande en die klein dorpies naby die stad gekry.

13. Die nageslag van die priester Aäron het hierdie stede gekry: die asielstad Hebron, en Libna,

14. Jattir, Estemoa,

15. Golon, Debir,

16. Ajin, Jutta en Bet-Semes, elke stad met sy weiveld. Dit was die nege stede van hierdie twee stamme.

17. Hulle het van die Benjamin-stam ook hierdie stede gekry: Gibeon, Geba,

18. Anatot en Almon. Dit was vier stede, elke stad met sy weiveld.

19. Die priesters van die nageslag van Aäron het 13 stede gekry, elke stad met sy weiveld.

20. Die Israeliete het lootjies getrek, en die ander Leviete in die Kehat-familie het hulle grond gekry. Hulle het van die Efraim-stam hierdie stede gekry:

21. die asielstad Sigem in die Efraim-berge, en die stede Geser,

22. Kibsajim en Bet-Goron, saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

23. Hulle het van die Dan-stam ook hierdie stede gekry: die stede Elteke, Gibbeton,

24. Ajalon en Gat-Rimmon, saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

25. Hulle het van die halwe Manasse-stam hierdie stede gekry: Taänak en Gat-Rimmon, saam met die weivelde by die stede. Dit was twee stede.

26. Die ander Leviete in die Kehat-familie het tien stede gekry, saam met die weivelde by die stede.

27. Die Leviete in die Gerson-familie het van die halwe Manasse-stam in die land Basan die asielstad Golan en die stad Astarot gekry, saam met die weivelde by die stede. Dit was twee stede.

28. Hulle het van die Issaskar-stam hierdie stede gekry: Kisjon, Daberat,

29. Jarmut en En-Gannim saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

30. Hulle het van die Aser-stam hierdie stede gekry: Misal, Abdon,

31. Gelkat en Regob, saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

32. Van die Naftali-stam het hulle hierdie stede gekry: die asielstad Kedes in Galilea en die stede Gammot-Dor en Kartan, saam met die weivelde by die stede. Dit was drie stede.

33. Die Gerson-families het 13 stede gekry.

34. Die ander Leviete, die Merari-familie, het van die Sebulon-stam hierdie stede gekry: Jokneam, Kartan,

35. Dimna en Nahalal saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

36. Hulle het van die Ruben-stam hierdie stede gekry: Beser, Jahas,

37. Kedemot en Mefaät, saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

38. Hulle het van die Gad-stam hierdie stede gekry: die asielstad Ramot in die land Gilead, en die stede Maganajim,

39. Gesbon en Jaser, saam met die weivelde by die stede. Dit was vier stede.

40. Die ander Leviete, die Merari-familie, het tien stede gekry.

41. Die Leviete het almal saam 48 stede van die Israeliete gekry, saam met die weivelde by die stede.

42. Daar was weiveld by elke stad.

43. Die Here het vir die Israeliete die land gegee wat Hy vir hulle voorvaders belowe het. Die Israeliete het die land gevat en hulle het daar gaan woon.

44. Die Here het die Israeliete laat wen teen al die vyande rondom hulle, Hy het dit vir hulle voorvaders belowe. Nie een van hulle vyande kon hulle oorwin en bly staan nie. Die Here het die Israeliete laat wen teen al hulle vyande.

45. Alles wat die Here vir die Israeliete belowe het, het gebeur.