hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 18 Bybel vir Almal (ABA)

Josua stuur mense om die dele van die land op te skryf

1. Die hele volksvergadering van die Israeliete het in die stad Silo bymekaargekom en hulle het die tent daar opgeslaan, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het die hele land klaar oorwin,

2. maar sewe van die stamme van die Israeliete het nog nie hulle eie grond gekry nie.

3. Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank wil julle nog wag voordat julle die land gaan vat wat die Here, die God van ons voorvaders, vir julle gegee het?

4. Julle moet drie persone van elke stam bring sodat ek hulle kan stuur om deur die land te gaan en om elke deel van die land op te skryf en dit vir my te bring.

5. Julle moet die land deel in sewe dele. Die stam Juda moet op hulle grond in die suide bly en die nageslag van Josef moet op hulle grond in die noorde bly.

6. Julle moet opskryf waar elkeen van die sewe dele is en julle moet dit vir my bring, dan sal ek hier lootjies trek voor ons God die Here.

7. Die Levi-stam kry nie ’n deel van die land saam met julle nie, want hulle deel is om priesters van die Here te wees. En die stamme Gad en Ruben en die halwe Manasse-stam het klaar hulle grond gekry oos van die Jordaan-rivier. Moses, die dienaar van die Here, het daardie grond vir hulle gegee.”

8. Die manne wat moes gaan opskryf waar die verskillende dele van die land is, het dadelik gegaan. Josua het vir hulle gesê: “Julle moet deur die land gaan en julle moet die plekke opskryf en dit vir my bring. Dan sal ek hier voor die Here in die stad Silo vir julle die lootjies trek.”

9. Die manne het deur die land gegaan en hulle het die stede in die sewe dele opgeskryf in ’n boek, en daarna het hulle teruggekom na Josua toe in die kamp by die stad Silo.

10. Josua het toe in die tempel by Silo die lootjies getrek en hy het die land verdeel tussen die stamme van die Israeliete.

Die grond van die Benjamin-stam

11. Toe Josua die eerste lootjie trek, het die Benjamin-stam hulle grond gekry tussen die grond van die mense van Juda en die grond van die nageslag van Josef.

12. Die noordgrens begin by die Jordaan-rivier en dan gaan dit noord van die stad Jerigo op teen die berge na die westekant en dit gaan tot in die woestyn van Bet-Awen.

13. Van daar gaan die grens na die stad Lus, na Bet-El suid van Lus, en dan af na die stad Atrot-Addar op die berg suid van die stad Bet-Goron-Onder.

14. Dan draai die grens en dit gaan na die westekant, suid van die berg wat naby Bet-Goron is, en dit gaan tot by die stad Kirjat-Baäl. Kirjat-Baäl se ander naam is Kirjat-Jearim, dit behoort aan die mense van Juda. Dit is die wesgrens.

15. Die suidgrens begin by Kirjat-Jearim en dan gaan dit wes tot by Neftoag-fontein.

16. Daarna gaan die grens tot teen die berg by die Ben-Hinnom-vallei, noord van Spook-laagte, en dan gaan dit in die Ben-Hinnom-vallei langs die Jebusiete-berg verby na Rogel-fontein.

17. Daar draai die grens noord na Semes-fontein en dan gaan dit na die stad Gelilot naby Adummim-pas en dan af na die Klip van Bohan seun van Ruben.

18. Dan gaan die grens noord tot teen die Jordaan-vallei en dan af in die vallei.

19. Daarna gaan die grens noord tot naby Bet-Gogla, en dit gaan tot teen die noordelike punt van die Sout-see, die Jordaan-rivier vloei daar in die Sout-see. Dit is die suidgrens.

20. Die Jordaan-rivier is die oosgrens. Dit is die grond wat die families van die Benjamin-stam kry.

21. Die stede van die families in die Benjamin-stam was: Jerigo, Bet-Gogla, Kesis-vallei,

22. Bet-Araba, Semarajim, Bet-El,

23. Awwim, Para, Ofra,

24. Kefar-Ammoni, Ofni en Geba. Dit was twaalf stede en die dorpies daar naby.

25. Die Benjamin-stam het ook Gibeon, Rama, Beërot,

26. Mispa, Kefira, Mosa,

27. Rekem, Jirpeël, Tarala,

28. Sela, Elef, Jebusietestad, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat gekry. Dit was 14 stede en die dorpies daar naby. Dit is die stede van die families in die Benjamin-stam.