hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10 Bybel vir Almal (ABA)

Vyf konings maak oorlog teen die stad Gibeon

1. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor wat gebeur het. Hy het gehoor dat Josua die stad Ai oorwin het en dat hy die stad heeltemal verwoes het. Hy het gehoor dat Josua met Ai en sy koning dieselfde gedoen het wat hy gedoen het met Jerigo en sy koning. Hy het ook gehoor dat die mense van Gibeon vrede gemaak het met die Israeliete, en dat die Israeliete tussen die mense van Gibeon gaan woon het.

2. Die mense van Jerusalem het toe baie bang geword, want Gibeon was ’n groot stad. Dit was soos die stad van ’n koning, dit was groter as die stad Ai, en al die manne van Gibeon kon goed oorlog maak.

3. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het ’n boodskap gestuur na koning Hoham van die stad Hebron, koning Piram van die stad Jarmut, koning Jafia van die stad Lakis en koning Debir van die stad Eglon. Hy het gevra:

4. “Julle moet my kom help, ons moet Gibeon aanval, want daardie mense het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.”

5. Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom, dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. Hulle en hulle leërs het hulle tente opgeslaan by Gibeon en hulle het begin om oorlog te maak teen die stad.

6. Die mense van Gibeon het toe ’n boodskap gestuur na Josua in die kamp by Gilgal en hulle het gevra: “Jy moenie vir ons los nie, jy moet gou na ons toe kom en jy moet ons red en help, want al die konings van die Amoriete wat in die berge woon, het bymekaargekom om teen ons oorlog te maak.”

7. Josua het van Gilgal gegaan en al die manne wat kon oorlog maak, het saam met hom gegaan, almal wat goed kon veg.

8. Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want Ek sal jou laat wen teen hulle, nie een van hulle sal iets teen jou kan doen nie.”

9. Josua het weggegaan van Gilgal. Hy het die hele nag geloop en hy het by die Amoriete gekom toe hulle dit nie verwag het nie.

10. Die Here het die Amoriete laat vlug vir die Israeliete, en die Israeliete het baie Amoriete daar by Gibeon doodgemaak. Hulle het die Amoriete gevolg en gejaag op die pad oor die berg na die stad Bet-Goron. Hulle het aangehou om die Amoriete te volg en dood te maak tot by die stede Aseka en Makkeda.

11. Die Amoriete het weggevlug van die Israeliete, en toe die Amoriete op die pad was van die berg na die stad Bet-Goron, het die Here groot haelstene laat val op hulle. Baie Amoriete het gesterf, meer Amoriete as wat die Israeliete met hulle swaarde doodgemaak het.

12. Josua het daardie dag met die Here gepraat, die dag toe die Here die Israeliete laat wen het teen die Amoriete. Die Israeliete het gehoor toe Josua sê:“Son, jy moet stilstaanby die stad Gibeon,maan, jy moet stilstaanin die Ajalon-vallei.”

13. Die son en die maan het toe stilgestaan totdat die Israeliete hulle vyande oorwin het. Dit is so geskryf in die Boek van Jasar: Die son het stilgestaan hoog in die lug, die son het omtrent ’n hele dag lank nie ondergegaan nie.

14. Daar was nog nooit ’n dag soos hierdie dag nie, nie voorheen nie en ook nie later nie. Die Here het gedoen wat ’n mens vir Hom gevra het, want die Here het self oorlog gemaak, sodat die Israeliete hulle vyande kon oorwin.

15. Josua en al die manne van Israel het teruggegaan na die kamp by die stad Gilgal.

16. Daardie vyf konings het gevlug en hulle het gaan wegkruip in ’n grot by die stad Makkeda.

17. Josua het gehoor dat sy manne die vyf konings gekry het waar hulle wegkruip in die grot by Makkeda,

18. en hy het vir sy manne gesê: “Julle moet groot klippe voor die grot rol en julle moet manne daar laat bly om wag te staan.

19. Maar julle moenie daar bly staan nie, julle moet julle vyande volg en jaag en julle moet hulle van agter aanval. Julle moet keer sodat hulle nie in hulle stede kom nie, want God sal julle laat wen teen hulle.”

20. Josua en die Israeliete het aangehou om die Amoriete te volg en dood te maak en hulle het baie Amoriete doodgemaak. Min Amoriete het vry weggekom en min het ingegaan in die stede wat sterk mure gehad het.

21. Al die Israeliete het veilig teruggekom na Josua toe, na die kamp by die stad Makkeda. Niemand kon nou iets sê teen die Israeliete nie.

22. Josua het toe gesê sy manne moet die grot oopmaak en hulle moet die vyf konings uitbring na hom toe.

23. Die manne het dit gedoen. Hulle het daardie vyf konings uit die grot gebring na Josua toe. Dit was die konings van die stede Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.

24. Nadat hulle die konings na Josua gebring het, het Josua al die Israeliete geroep en hy het gepraat met die leiers van die manne wat saam met hom oorlog gemaak het. Hy het vir hulle gesê: “Kom sit julle voete op die nekke van hierdie konings.”Die leiers het gekom en hulle het hulle voete op die nekke van daardie konings gesit.

25. Josua het vir die leiers gesê: “Julle moenie bang en bekommerd wees nie, julle moet sterk en dapper wees, want julle sal oorlog moet maak teen julle vyande, maar die Here sal dieselfde doen met daardie vyande.”

26. Josua het toe die vyf konings doodgemaak, en hy het hulle liggame laat ophang aan bome. Die liggame het tot die aand daar gehang.

27. Toe die son ondergaan, het Josua gesê hulle moet die liggame afhaal van die bome. Hulle het dit gedoen en hulle het die liggame in die grot gegooi waar die vyf konings weggekruip het. Toe het hulle groot klippe voor die grot gesit. Die klippe is nou nog daar.

Josua oorwin ander stede

28. Josua het daardie dag ook die stad Makkeda oorwin en hy het die mense in die stad doodgemaak. Hy het gesê hulle is gewy aan die Here en hy het hulle almal doodgemaak, daar het niemand vry weggekom nie. Josua het met die koning van Makkeda dieselfde gedoen wat hy gedoen het met die koning van Jerigo.

29. Josua en al die manne van Israel het van Makkeda na die stad Libna gegaan, en hy het oorlog gemaak teen die stad.

30. Die Here het die Israeliete laat wen teen die mense van Libna en teen die koning van die stad. Hy het almal in die stad laat doodmaak. Nie een het aangehou lewe nie. Josua het met die koning van Libna dieselfde gedoen wat hy gedoen het met die koning van Jerigo.

31. Josua en al die manne van Israel het toe verder gegaan, hulle het na die stad Lakis gegaan. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad en hulle het die stad aangeval.

32. Die Here het die Israeliete laat wen teen die mense van Lakis. Josua het die stad oorwin op die tweede dag. Hy het al die mense in die stad doodgemaak, soos hy gedoen het met die mense in Libna.

33. In daardie tyd het koning Horam van die stad Geser gekom om die mense van Lakis te help, maar Josua het die koning en sy mense oorwin, daar het nie een mens aangehou lewe nie.

34. Josua en al die manne van Israel het verder gegaan van Lakis na die stad Eglon. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad en hulle het die stad aangeval.

35. Hulle het daardie dag die stad oorwin en hulle het al die mense in die stad doodgemaak, soos hulle gedoen het met die mense van Lakis.

36. Josua en al die manne van Israel het verder gegaan van die stad Eglon na die stad Hebron.

37. Hulle het die stad oorwin en hulle het die koning en al die mense in die stad doodgemaak. Nie een mens het aangehou lewe nie. Hulle het met Hebron dieselfde gedoen soos hulle gedoen het met die mense van Eglon. Al die mense in die stad was gewy aan die Here.

38. Josua en al die manne van Israel het omgedraai en hulle het na die stad Debir gegaan. Hulle het die stad aangeval

39. en oorwin en hulle het die koning en al die mense in die stad doodgemaak. Almal in die stad was gewy aan die Here. Niemand in die stad het aangehou lewe nie. Josua het met die stad Debir en sy koning dieselfde gedoen soos hy gedoen het met die stad Hebron en die stad Libna en hulle konings.

40. Josua het die hele land oorwin, die Bergland, die Suid-land, die Laeveld en die land naby die see. Josua het al daardie konings oorwin en hy het niemand laat aanhou lewe nie. Hy het elke mens wat daar gewoon het, aan die Here gewy, soos die Here, die God van Israel, gesê het.

41. Josua het hulle oorwin van die stad Kades-Barnea tot by die stad Gasa, en die hele land Gosen tot by die stad Gibeon.

42. Josua het al die konings en hulle lande gevat in dieselfde tyd, want die Here, die God van Israel, het self oorlog gemaak, sodat die Israeliete hulle vyande kon oorwin.

43. Daarna het Josua en al die Israeliete saam met hom teruggegaan na die kamp in Gilgal.