hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die Israeliete gaan oor die Jordaan-rivier

1. Josua het vroeg die oggend weggegaan van Sittim, hy en al die Israeliete, en hulle het by die Jordaan-rivier gekom. Hulle het die nag daar gebly voordat hulle oorgegaan het.

2. Ná drie dae het die voormanne deur die kamp gegaan

3. en hulle het vir die mense gesê: “Wanneer julle sien dat die Levi-priesters die verbondskis van julle God die Here optel, dan moet julle kom en julle moet agter die kis loop.

4. Maar julle moet onthou om ver van die kis te bly, omtrent 2 000 el, julle moenie nader kom nie. Julle moet agter die kis loop sodat julle kan weet waarnatoe julle moet gaan, want julle het nie voorheen hierdie pad geloop nie.”

5. Josua het ook vir die volk gesê: “Julle moet julleself wy, want die Here sal môre wonderwerke doen tussen julle.”

6. Josua het vir die priesters gesê: “Julle moet die verbondskis optel en julle moet voor die volk loop.”Die priesters het die verbondskis opgetel en hulle het voor die volk geloop.

7. Die Here het vir Josua gesê: “Ek sal vandag begin om vir al die Israeliete te wys dat jy ’n belangrike man is. Hulle moet weet dat Ek by jou sal wees, soos Ek by Moses was.

8. En jy moet self vir die priesters wat die verbondskis dra, sê: ‘Wanneer julle by die water van die Jordaan-rivier kom, dan moet julle in die rivier gaan staan.’ ”

9. Daarna het Josua vir die Israeliete gesê: “Julle moet nader kom hiernatoe en julle moet hoor wat sê julle God die Here.”

10. Josua het gesê: “Ek sal vir julle sê hoe julle sal weet dat die God wat lewe, tussen julle sal wees. Hy is die God wat die Kanaäniete, die Hetiete, die Hewiete, die Feresiete, die Girgasiete, die Amoriete en die Jebusiete sal wegjaag om plek te maak vir julle. Hy sál dit doen, dit is seker.

11. Julle sal sien dat die verbondskis van die Here van die hele aarde voor julle oor die Jordaan-rivier sal gaan.

12. Daarom moet julle twaalf manne kies, een uit elke stam van Israel.

13. Die priesters sal die kis van die Here dra, die Here van die hele aarde, en wanneer die priesters se voete in die water staan, dan sal die water wat van die bokant kom, ophou om af te vloei. Die water sal soos ’n wal bly staan.”

14. Die priesters wat die verbondskis gedra het, was voor die volk toe hulle uit hulle kamp gekom het om na die Jordaan-rivier te gaan.

15. Dit was die tyd om die koring af te sny, en dan was die Jordaan-rivier altyd vol water, tot oor sy walle. Toe die priesters wat die kis gedra het, by die Jordaan-rivier kom, en hulle sit hulle voete in die water,

16. het die water wat van die bokant gekom het, opgehou vloei. Die water was soos ’n hoë wal, en al die water tot ver by die stad Adam het opgehou vloei. Adam was ’n stad naby die stad Saretan. Die water by die onderkant het weggevloei na die Sout-see, die see in die Jordaan-vallei. Al die Israeliete kon deur die droë rivier loop oorkant die stad Jerigo.

17. Al die Israeliete het op droë grond oorgeloop. Die priesters wat die verbondskis van die Here gedra het, het op droë grond in die Jordaan-rivier gestaan totdat al die mense klaar oorgeloop het.