hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die regte dinge moet vir gelowiges belangrik wees

1. God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe saam met Christus. Daarom moet die dinge wat vir Christus belangrik is, nou vir julle ook belangrik wees, want Christus is nou in die hemel by God, Hy sit op die belangrikste plek by God.

2. Julle moet altyd dink aan die dinge wat vir Christus belangrik is, die dinge daarbo in die hemel. Julle moenie dink aan die dinge wat vir mense belangrik is nie, aan die dinge hier onder op die aarde nie.

3. Julle sondige lewe is verby, dit is dood. Julle het nou ’n nuwe lewe, maar die ander mense weet dit nie, want julle lewe saam met Christus wat by God is.

4. Dit is Christus wat die nuwe lewe vir julle gee. Hy sal weer kom, en dan sal almal weet dat julle aan Hom, die Koning, behoort.

Gelowiges moenie sonde doen nie

5. Julle moet ophou om slegte dinge te doen, die dinge wat sondige mense graag doen. Julle moenie onsedelik lewe nie, julle moenie slegte dinge doen of dink of wil hê nie. Julle moenie altyd meer en meer goed wil hê nie, want dan word julle goed vir julle ’n afgod.

6. Mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf.

7. Julle het ook voorheen daardie slegte dinge gedoen en julle het gelewe soos daardie mense.

8. Maar nou moet julle nie meer daardie slegte dinge doen nie. Julle moenie kwaad word en dan verkeerde dinge sê of doen nie. Julle moenie lelike dinge teen ander mense sê nie. Julle moenie dinge sê wat ander mense seermaak nie.

9. Julle moenie vir mekaar lieg nie, want julle doen nie meer die dinge wat julle voorheen gedoen het nie.

10. Julle is nou nuwe mense. God het julle gemaak en Hy maak julle nuut sodat julle Hom kan ken en kan wees soos Hy is.

11. Julle is nie almal dieselfde nie, party van julle is Grieke en party is Jode, party is besny en party is nie besny nie, party is nie Grieke nie, party is mense wat glad nie belangrik is nie, party is slawe en party is nie slawe nie. Maar nou maak dit nie meer saak nie. Christus is die belangrikste en Hy is in julle harte.

Hoe moet gelowiges lewe?

12. God het julle gekies, julle behoort aan Hom en Hy is lief vir julle. Daarom moet julle goeie dinge doen. Julle moet regtig jammer wees vir ander mense en julle moet goed wees vir hulle. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet sagte harte hê, julle moenie gou kwaad word nie.

13. Julle moet geduldig wees met mekaar. As iemand iets verkeerd gedoen het, dan moet julle nie kwaad wees vir hom nie, julle moet hom vergewe. Die Here het julle vergewe, en so moet julle mekaar ook vergewe.

14. Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees.

15. Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees.

16. Julle moet altyd dink aan die goeie boodskap oor Christus. Julle moet soos wyse mense vir mekaar leer en mekaar waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie. Julle moet psalms en gesange en ander liedere sing om vir God dankie te sê.

17. Julle behoort aan die Here Jesus. Daarom, al die dinge wat julle sê en doen, moet dinge wees wat Hy wil hê, en julle moet vir God die Vader dankie sê. Ja, julle moet vir Christus vra om vir God te sê julle sê dankie.

Hoe moet gelowiges in hulle huise lewe?

18. Vroue, julle moet luister na julle mans. Dit is wat die Here wil hê.

19. Mans, julle moet lief wees vir julle vroue. Julle moenie vir hulle laat swaarkry nie.

20. Kinders, julle moet altyd gehoorsaam wees aan julle ouers, want die Here hou daarvan as julle luister na julle ouers.

21. Pa’s, julle moenie so kwaai met julle kinders wees dat hulle moedeloos word nie.

22. Slawe, julle moet alles doen wat julle eienaars hier op die aarde sê julle moet doen. Julle moet die Here dien en daarom moet dit vir julle lekker wees om vir julle eienaars te werk. Julle moenie net werk wanneer julle eienaars vir julle kyk nie, julle moenie net werk sodat mense van julle kan hou nie. Dit moet vir julle lekker wees om vir julle eienaars te werk omdat julle die Here respekteer.

23. Slawe, julle moenie iets doen net sodat ander mense daarmee tevrede sal wees nie. Julle moet dit baie goed doen sodat die Here daarmee tevrede sal wees,

24. want julle weet die Here sal julle beloon. Hy sal vir julle gee wat Hy vir julle belowe het. Julle werk vir Christus, Hy is julle Eienaar.

25. Wanneer mense verkeerd doen, dan sal die Here vir hulle gee wat hulle moet kry, Hy sal hulle straf. Hy doen reg aan almal.