hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 2 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek wil hê julle moet weet dat ek baie hard werk vir julle en vir die gelowiges in die stad Laodisea en vir al die mense wat my nog nie ontmoet het nie.

2. Ek wil vir almal sê hulle moet aanhou om lief te wees vir mekaar en om baie seker te wees dat hulle alles weet van God se boodskap oor Christus. God wil hê julle moet vir Christus ken. God se boodskap oor Christus is ’n boodskap wat niemand voorheen geken het nie.

3. Christus het al die kennis en wysheid, maar tot nou toe het die mense dit nie geweet nie.

4. Ek sê dit alles vir julle, want ek wil nie hê mense moet julle bedrieg nie. Hulle vertel vir julle dinge wat reg lyk, maar wat verkeerd is.

5. Ek is ver van julle, maar dit voel vir my of ek daar by julle is. Ek is bly om te weet dat julle lewe soos God wil hê en dat julle regtig vas glo in Christus.

Gelowiges behoort aan Christus en hulle moet reg lewe

6. Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is, en julle glo in Hom. Nou moet julle lewe soos mense wat aan Hom behoort.

7. Christus maak julle geloof sterk, soos ’n wortel ’n boom sterk maak en soos ’n fondament ’n huis sterk maak. En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles.

8. Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie. Die dinge wat hulle sê, kom van die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer.

9. Daardie mense praat nie die waarheid nie, want Christus, die Seun wat ’n mens geword het, is ook God en Hy is so sterk soos God.

10. Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer.

11. Julle behoort aan Christus. Soos wanneer mense iemand besny, so het Hy julle lus om sonde te doen, heeltemal weggevat. Dit is wat die besnydenis van Christus is.

12. Hy het julle besny toe julle gedoop is. Julle is gedoop, en dit beteken dat julle saam met Christus begrawe is. Dit beteken ook dat God julle saam met Christus weer laat lewe het. Dit is so, want julle glo in God, God wat sterk is en wat vir Christus weer laat lewe het.

13. Julle het voorheen baie sondes gedoen, en daarom was julle geestelik dood. Julle was nie besny nie. Maar God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe toe Hy al julle sondes vergewe het.

14. God het ons sondes in ’n boek geskryf, want ons het nie gedoen wat sy wette sê nie. Maar God het vir Christus aan die kruis laat sterf en so het Hy ons sondes vergewe, die sondes wat Hy in sy boek geskryf het. Ja, Hy het die sondes uitgevee uit sy boek.

15. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God die wapens weggevat van almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Hulle het sy gevangenes geword, en Hy het vir almal gewys dat hulle sy gevangenes is.

Gelowiges moet oppas vir mense wat vir hulle verkeerde dinge wil leer

16. Daarom moet niemand sê julle doen verkeerd wanneer julle nie dieselfde dinge eet en drink wat hulle eet en drink nie, en wanneer julle nie die feeste, die Nuwemaan-fees en die Sabbatdag vier nie.

17. Al daardie wette en feeste was soos skaduwees, dit was minder belangrik. Dit het net gewys eendag sal die Een kom wat regtig belangrik is, dit is Christus.

18. Daar is mense by julle wat sê hulle is nie hoogmoedig nie, maar hulle lieg. Hulle aanbid engele, hulle spog en sê God het vir hulle dinge gewys, maar dit is nie waar nie. Hulle is trots op die slegte dinge wat hulle dink. Julle moenie dink dat hulle beter weet as julle en dat julle verkeerd is nie.

19. Hulle hou nie vas aan Christus nie. Hy is die Hoof van die kerk, en die kerk is sy liggaam. Hy hou die kerk styf vas, soos die spiere ’n mens se liggaam sterk maak en die dele van die liggaam vasbind aan mekaar. Hy maak die kerk groter en sterker. So laat God die kerk groei.

20. Christus het gesterf. Julle het saam met Hom gesterf, en toe het julle sondige lewe opgehou. Hoekom doen julle dan nog wat die geeste wil hê, die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer? Die mense van die wêreld moet reëls hê, maar julle het nie daardie reëls nodig nie.

21. Ek bedoel die reëls wat sê: Moenie aan hierdie ding raak nie, moenie daardie ding eet nie, moenie aan daardie ding raak nie!

22. Dit is reëls oor dinge soos kos, en kos is later op. Dit wys dit is mense se reëls, dit is soos mense wil hê julle moet doen.

23. Daardie reëls lyk miskien vir mense reg en slim. Dit lyk of die reëls vir mense help om God te dien en om nie hoogmoedig te wees nie, en om die regte dinge te doen met hulle liggame. Maar dit is nie waar nie. Die reëls help nie regtig vir die mense nie. Die reëls help nie mense om op te hou om die slegte dinge te doen wat hulle graag doen nie.