hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1 Bybel vir Almal (ABA)

Petrus groet almal wat sy brief lees

1-2. Ek, Petrus, is ’n apostel van Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir julle wat vreemdelinge is en wat op verskillende plekke woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. God die Vader het julle gekies om sy volk te wees omdat Hy lank gelede dit besluit het. Die Heilige Gees het julle gewy om sy volk te wees en om gehoorsaam te wees aan Jesus Christus. God het lank gelede besluit dat Jesus Christus moet sterf om julle sonde weg te neem. Ons bid dat God genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle baie vrede sal gee.

Julle moet bly wees, want God gee vir julle nuwe lewe

3. Ons prys die God en Vader van ons Here Jesus Christus, God wat baie goed is vir ons. Jesus Christus het gesterf, maar God het vir Jesus weer laat lewe, en so het God vir ons ook weer laat lewe. Ons het nou ’n nuwe lewe, en daarom kan ons baie seker wees van die dinge wat ons hoop.

4. Ons is seker dat God vir julle alles sal gee wat Hy belowe het. Niemand kan die dinge wegvat wat God gee nie, dit bly dieselfde, dit is nie soos ’n blom wat droog word en verlep nie. God het hierdie dinge vir julle gebêre in die hemel.

5. God is sterk, Hy pas ook vir julle mooi op, julle wat in Hom glo. Hy wil julle red op die laaste dag, julle sal dit sien.

6. Julle moet baie bly wees dat God julle wil red. Julle kry nou baie swaar en julle dink dat julle miskien moet ophou om vir God te dien. Maar julle sal net ’n kort tydjie swaarkry.

7. Hierdie dinge wat julle laat swaarkry, toets julle geloof, en julle geloof is meer kosbaar as goud. Goud bly nie altyd dieselfde nie, maar ’n mens smelt goud in vuur om dit skoon te maak. Wanneer julle swaarkry en wanneer God julle geloof toets, dan sal mense sien dat julle geloof beter is as goud wat mense gesmelt het. Wanneer Jesus Christus weer kom, dan sal julle belangrik wees, God sal julle prys en vir julle eer gee.

8. Julle het nooit vir Jesus Christus gesien nie, maar julle is lief vir Hom. Julle sien Hom nou ook nie, maar julle glo in Hom. Ja, julle is baie bly, ’n mens kan nie met woorde sê of verduidelik hoe bly julle is nie, dit is God wat julle so bly maak.

9. Julle is bly, want julle weet wat julle gaan kry: God sal vir julle red, julle wat in Christus glo.

10. Die profete het baie hard probeer om uit te vind hoe God vir julle sal red, en hulle het vir julle die boodskap van genade gebring.

11. Die Gees van Christus wat in die profete gewoon het, het lank gelede vertel dat Christus baie swaar sal kry en dat Hy daarna Koning sal wees. Die profete het probeer om uit te vind wanneer en hoe die dinge met Christus sal gebeur, die dinge waarvan die Gees gepraat het.

12. God het vir die profete gewys dat hulle die goeie boodskap nie vir hulleself moes bring nie, maar vir julle. God het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees het vir die profete die goeie boodskap gegee wat hulle nou vir julle gebring het. Die engele wil ook graag hierdie dinge weet.

Julle moet julleself aan die Here wy en julle moet lief wees vir mekaar

13. Daarom moet julle gereed wees, julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wag en heeltemal seker wees dat God genadig sal wees vir julle op die dag wanneer Jesus Christus kom.

14. Julle moet lewe soos kinders wat gehoorsaam is, julle moenie lewe soos julle voorheen gelewe het nie. In daardie tyd het julle nog nie die goeie boodskap van God geken nie, en toe wou julle graag slegte dinge doen.

15. Nee, God het julle gekies om sy volk te wees en Hy is heilig. Daarom moet julle heeltemal lewe soos mense wat aan God behoort.

16. Julle moet so lewe omdat daar in die Ou Testament geskryf is: “Julle moet julleself aan My wy, want Ek is heilig.”

17. Julle bid tot God en julle noem Hom julle Vader. Hy dink nie dat een mens belangriker is as ’n ander mens nie en daarom sal Hy elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Daarom moet julle vir God respekteer terwyl julle soos vreemdelinge in die wêreld is.

18-19. Julle weet dat Christus julle vrygemaak het van die slegte lewe wat niks beteken nie, julle het by julle voorvaders geleer om so te lewe. Christus het julle vrygemaak, maar Hy het julle nie gekoop met silwer of goud nie. Dit is dinge wat kan ophou om iets te beteken. Nee, Christus het julle vrygemaak met iets wat baie beter is, Hy het julle vrygemaak toe Hy gesterf het. Hy het gesterf soos ’n lam wat ’n offer was, ’n lam wat heeltemal gesond en perfek was.

20. God het vir Christus gekies om dit te doen voordat God die wêreld gemaak het. Nou is dit die einde van die tyd, God het Christus vir julle gestuur.

21. Julle glo in God omdat julle aan Christus behoort. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe en God het Hom Koning gemaak. Daarom glo julle in God, julle weet en julle is seker dat Hy julle sal red.

22. Julle was gehoorsaam aan die waarheid en so het julle julleself gereinig, nou kan julle waarlik lief wees vir mekaar. Daarom moet julle baie lief wees vir mekaar, julle moenie vals wees en ophou om lief te wees vir mekaar nie.

23. God het ’n nuwe lewe vir julle gegee, maar dit was nie soos wanneer ’n kind gebore word uit ouers wat kan sterf nie. Nee, God het vir julle hierdie nuwe lewe gegee toe Hy met julle gepraat het, God wat lewe en wat altyd daar is.

24. Want in die Ou Testament is geskryf: Al die mense is soos gras.Hulle is miskien mooi en goed,maar hulle issoos die veldblomme.Gras word droog,en blomme val af,

25. maar wat die Here sê,sal nooit verander nie.En dit is die goeie boodskap wat die boodskappers vir julle gebring het.