hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 5 Bybel vir Almal (ABA)

Jakobus waarsku ryk mense wat ander mense verdruk

1. Ryk mense, julle moet luister, julle moet huil en skree oor die slegte dinge wat met julle sal gebeur.

2. Julle het baie goed bymekaargemaak, maar dit het vrot geword, en die motte het julle klere gevreet.

3. Julle goud en silwer het geroes, en die roes sal wys watter slegte dinge julle gedoen het. Roes vreet goud en silwer, en die vuur van die Here se straf sal ook vir julle brand, want julle het mooi en duur goed bymekaargemaak in hierdie laaste dae voordat die Here kom.

4. Kyk wat het julle gedoen! Julle het nie die mense betaal wat koring afgesny het op julle lande nie. Die geld wat húlle moes gekry het, beskuldig nou vir júlle. Ja, die Here wat oor alles regeer, hoor altyd wanneer die mense wat die koring afgesny het, skree en vra dat Hy hulle moet help.

5. Hier op die aarde het julle duur goed gekoop en julle het die lewe geniet. Julle het vet geword toe die tyd al naby was, die tyd wanneer die Here almal sal straf wat verkeerd gedoen het.

6. Julle het gesê onskuldige mense is skuldig. Hulle kon julle nie keer nie en hulle kon hulleself nie verdedig nie, maar julle het hulle vermoor.

Julle moet geduldig wees

7. Vriende, julle moet geduldig wag totdat die Here kom. Julle weet dat ’n boer geduldig wag om al die koring op die land af te sny. Hy moet geduldig wag totdat die vroeë reën en die laat reën geval het.

8. Dit is dieselfde vir julle: Julle moet ook geduldig wees, julle moet aanhou hoop, want dit sal nie meer lank wees nie, dan sal die Here kom.

9. Vriende, julle moenie kla oor mekaar nie. As julle kla, dan sal die Here julle oordeel. Julle moet dit weet: Daardie Regter is naby, so naby soos iemand wat voor die deur staan.

10. Vriende, die profete het gesê wat die Here vir hulle gesê het, hulle is ’n voorbeeld vir julle, hulle is mense wat baie swaar gekry het en wat geduldig gewag het. Julle moet dieselfde doen soos hulle gedoen het.

11. Ons dink dat die mense wat geduldig wag, gelukkige mense is. Julle het gehoor dat Job geduldig was, en julle het gesien wat die Here se plan met hom was. Die Here was baie jammer vir Job en Hy was baie goed vir Job.

Die gelowiges moenie dinge belowe nie

12. Maar die belangrikste van alles is dit: Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, julle moet ook nie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, julle moenie iets belowe en sê enige iets is die getuie nie. Sê “ja” wanneer julle “ja” wil sê, en sê “nee” wanneer julle “nee” wil sê. As julle dit nie doen nie, dan sal God julle straf.

Glo en bid

13. Wanneer daar iemand by julle is wat swaarkry, dan moet hy bid. Wanneer daar iemand is wat bly is, dan moet hy vir die Here sing.

14. Wanneer daar iemand by julle is wat siek is, dan moet hy die ouderlinge van die gemeente roep om na hom toe te kom. Die ouderlinge moet die Naam van die Here sê en hulle moet olyf-olie op die persoon gooi en vir hom bid.

15. As die ouderlinge bid en glo dat die Here die siek persoon gesond sal maak, dan sal hy gesond word. Die Here sal hom laat opstaan van sy bed, en as hy sonde gedoen het, dan sal die Here sy sonde vergewe.

16. Daarom moet julle vir mekaar sê dat julle jammer is oor julle sondes. Julle moet ook vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Wanneer iemand doen wat die Here wil hê en hy bid, dan sal sy gebed help dat groot dinge gebeur.

17. Elia was ’n mens soos ons. Hy het baie ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie gereën op die aarde nie.

18. Toe het Elia weer gebid, en die reën het uit die lug gekom, en die aarde het sy plante laat groei.

19. My vriende, as daar iemand by julle is wat nie meer na die waarheid van die goeie boodskap wil luister nie, dan kan een van julle hom miskien help om weer na die Here te luister.

20. Julle moet dan onthou: As so iemand ’n ander gelowige help om nie weer verkeerd te doen nie, dan red hy hom van die dood. Dan sal die Here baie sondes vergewe.