hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 5 Bybel vir Almal (ABA)

Die ouderlinge

1-2. Ek is ’n ouderling soos julle en ek is ’n getuie wat gesien het dat Christus baie swaar gekry het. Die tyd is ook nou baie naby wanneer almal sal sien dat Christus die Koning is, en ek sal dit ook sien. Daarom vra ek mooi vir julle wat ouderlinge is, om herders te wees wat sorg vir God se mense wat daar by julle is. Julle moet sorg vir hulle, nie omdat iemand sê julle móét dit doen nie, maar omdat julle dit graag wil doen en omdat God dit wil hê. Julle moet dit doen, nie omdat julle altyd meer dinge wil hê nie, maar omdat julle baie graag wil sorg vir hulle.

3. God het mense vir julle gegee sodat julle vir hulle kan sorg. Julle moenie vir hulle verdruk nie, maar julle moet ’n goeie voorbeeld wees vir hulle.

4. Christus is die Hoof van die herders, en wanneer Hy weer kom, dan sal julle die lourier-krans kry wat pas by ’n koning, dit is ’n kransie wat nie droog word en verlep nie.

5. Ek het gepraat met die ouer mans en ek praat nou ook so met die jonger mans: Julle moet luister na die ouer mans, julle almal moet vir mekaar dien en julle moenie hoogmoedig wees nie, want: Wanneer mense dink dat hullevir ander mense kan spot,dan spot God vir húlle.Wanneer mense weet dat hullenie hulleself kan help nie,dan is God goed vir hulle.

Julle moet julleself verneder, dan sal God vir julle belangrik maak

6. Julle moet julleself verneder voor God wat baie sterk is, dan sal Hý vir julle belangrik maak op die laaste dag.

7. Julle moet alles waaroor julle bekommerd is, vir God sê, want Hy gee vir julle alles, Hy sorg vir julle.

8. Julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wakker wees. Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n leeu wat brul, hy soek iemand om op te vreet.

9. Julle moet veg teen die duiwel, julle geloof moet baie vas wees. Julle moet weet dat daar mense in die hele wêreld is wat ook in Christus glo, soos julle, en hulle kry ook so swaar soos julle.

10. Julle het al klaar ’n kort rukkie swaargekry, maar God is altyd baie goed. Hy het besluit dat julle wat aan Christus Jesus behoort, vir altyd by Hom moet wees, by Hom wat die Koning is. Dit is Hý wat vir julle sal gereedmaak, Hy sal julle help, Hy sal julle sterker maak, en Hy sal julle vas laat staan sodat julle nie sonde doen nie.

11. God is baie sterk, vir altyd. Amen.

Petrus stuur groete

12. Ek weet dat Silvanus ’n goeie vriend is, hy sal altyd doen wat hy belowe het. Hy het my gehelp om hierdie kort brief vir julle te skryf. Ek het geskryf om julle te bemoedig en te sê dat hierdie boodskap die waarheid is, die boodskap dat God baie goed is. Dit is hoekom julle moet aanhou glo.

13. God het die gemeente in Babilon ook gekies soos Hy vir julle gekies het, en die gelowiges hier stuur groete vir julle. Markus, my seun, stuur ook groete vir julle.

14. Julle moet mekaar groet met die soen wat wys dat julle almal lief is vir mekaar. Ek bid dat God vir julle almal wat aan Christus behoort, vrede sal gee.