hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Abimelek

1. Abimelek seun van Jerubbaäl het na Sigem toe gegaan, na sy ma se mense toe, en vir hulle en vir die hele familie gesê:

2. “Vra vir al die leiers van Sigem: Is dit beter as al sewentig seuns van Jerubbaäl oor julle regeer of as net een oor julle regeer? Julle weet goed ek is een van julle.”

3. Abimelek se familie het dit vir die burgers van Sigem gevra, en hulle was bereid om vir Abimelek te aanvaar, “want,” het hulle gesê, “hy is een van ons.”

4. Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee, en daarmee het Abimelek vir hom leeglêers gehuur om sy volgelinge te wees.

5. Hy is toe na sy pa se huis toe in Ofra en daar het hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, almal op een klip doodgemaak. Net Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip.

6. Toe het al die burgers van Sigem en al die mense van Millo bymekaargekom en vir Abimelek gaan koning maak by die groot boom langs die klippilaar van Sigem.

7. Dit is aan Jotam vertel en hy het op Gerisimberg gaan staan en vir hulle geskree:“Luister na my, leiers van Sigem,dan sal God na julle luister.

8. “Die bome het op 'n dag gegaanom vir hulle 'n koning te salf.Hulle het vir die olyfboom gesê:‘Wees koning oor ons!’

9. Maar die olyfboom het vir hulle gesê:‘Moet ek my olie prysgeewaarmee eer betoon word aan gode en mense?Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

10. “Toe sê die bome vir die vyeboom:‘Kom, wees jý koning oor ons!’

11. Maar die vyeboom sê vir hulle:‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee?Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

12. “Toe sê die bome vir die wingerdstok:‘Kom, wees jý koning oor ons!’

13. Maar die wingerdstok sê vir hulle:‘Moet ek my wyn prysgee,my wyn wat gode en mense bly maak?Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

14. “Toe sê al die bome vir die doringbos:‘Kom, wees jý koning oor ons.’

15. En die doringbos sê vir hulle:‘As julle my werklik wil salfsodat ek koning oor julle kan wees,moet julle almal in my skaduwee kom skuil.As julle dit nie kan doen nie,sal daar 'n vuur uitgaan uit die doringbos uiten dit sal die seders van die Libanon verteer.’

16. “Dink julle miskien julle het opreg en in goeie trou gehandel toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle reg opgetree teenoor Jerubbaäl en sy huis? Het julle hom behandel volgens wat hy verdien?

17. My pa het in julle belang gaan oorlog maak, hy het sy lewe openlik in gevaar gestel, hy het julle uit die mag van die Midianiete bevry.

18. Maar julle het vandag in opstand gekom teen hom en sy huis, en julle het sy sewentig seuns almal op een klip doodgemaak. En toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die burgers van Sigem net omdat hy julle familie is.

19. As julle vandag opreg en in goeie trou gehandel het teenoor Jerubbaäl en sy huis, moet julle bly wees oor Abimelek en hy moet bly wees oor julle.

20. Maar as dit nie so is nie, moet daar 'n vuur uit Abimelek uitgaan en die burgers van Sigem en die mense van Millo verteer. Daar moet ook 'n vuur uit die burgers van Sigem en die mense van Millo uitgaan en vir Abimelek verteer.”

21. Jotam het toe gevlug. Hy het na Beër toe padgegee en daar gaan woon omdat hy bang was vir sy broer Abimelek.

22. Abimelek het drie jaar lank oor Israel geregeer.

23. Toe het God vyandskap laat kom tussen Abimelek en die burgers van Sigem, en hulle het teen hom in opstand gekom.

24. God het dit oor Abimelek gebring oor die onreg wat hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God wou hulle dood wreek, en Hy het dié dinge oor die burgers van Sigem gebring omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25. Die burgers van Sigem het teen Abimelek hinderlae opgestel op die bergtoppe, en hulle het almal wat verbykom, beroof. Dit is aan Abimelek vertel.

26. Gaäl seun van Ebed en sy broers het daar verbygekom en in Sigem aangekom. Die burgers van Sigem het hom vertrou.

27. Hy en sy mense het op 'n keer lande toe gegaan om druiwe te pluk en te pars. Toe het hulle begin feesvier in die tempel van hulle god en nadat hulle geëet en gedrink het, het hulle vir Abimelek begin verkleineer.

28. Gaäl seun van Ebed het gevra: “En wie is Abimelek nogal, en wie is Sigem dat ons aan hom moet onderdanig wees? Moet Jerubbaäl se seun en sy goewerneur Sebul nie eerder aan die mense van Gamor, Sigem se voorvader, onderdanig wees nie? Waarom moet ons aan Abimelek onderdanig wees?

29. As ek in bevel was van hierdie mense, sou ek vir Abimelek verjaag het.”Gaäl het vir Abimelek gedaag: “Bring maar jou groot leër!”

30. Toe Sebul die stadsgoewerneur verneem wat Gaäl seun van Ebed gesê het, het hy baie kwaad geword.

31. Hy het 'n boodskap aan Abimelek in Torma gestuur: “Gaäl seun van Ebed en sy mense het na Sigem toe gekom en hulle sweep die stad teen jou op.

32. Jy en jou manne moet vannag kom en in die veld 'n hinderlaag opstel.

33. En môreoggend teen sonop moet jy die stad storm. Dan sal hy en die mense by hom teen jou optrek en kan jy vir Gaäl straf.”

34. Abimelek en al sy manne het toe in die nag klaargemaak en op vier punte 'n hinderlaag teen Sigem opgestel.

35. Toe Gaäl seun van Ebed op pad buitentoe by die stadspoort gaan staan, het Abimelek en sy manne juis in die hinderlaag opgestaan.

36. Gaäl het die manne gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af.”Maar Sebul sê vir hom: “Dis die skaduwee van die berg wat jy vir mense aansien.”

37. Gaäl het weer met hom gepraat en vir hom gesê: “Kyk, daar kom mense van die middelpunt van die land af. Daar kom ook 'n afdeling van die groot waarsêersboom af.”

38. Toe sê Sebul vir hom: “Hoe lyk dit nou met jou groot mond waarmee jy gesê het: ‘Wie is Abimelek nogal dat ons aan hom moet onderdanig wees?’ Is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Trek nou op en gaan veg teen hulle.”

39. Gaäl is toe voor die burgers van Sigem uit en hy het teen Abimelek gaan veg.

40. Hy het vir Gaäl op die vlug gejaag en Gaäl het vir Abimelek gevlug. Daar het baie mense gesneuwel by die stadspoort.

41. Abimelek het in Aruma gewoon, en Sebul het vir Gaäl en sy mense verdryf en hulle kon nie in Sigem bly woon nie.

42. Die volgende môre het die burgers van die omgewing dit vir Abimelek gaan vertel.

43. Hy het sy manne gevat en in drie groepe verdeel en 'n hinderlaag in die veld opgestel. Toe hy die mense uit die stad sien uitkom, het hy hulle gestorm en verslaan.

44. Abimelek en die leiers by hom het gestorm en by die poort van die stad gaan staan, en die twee ander groepe het gestorm en al die mense in die oop veld verslaan.

45. Abimelek het daardie hele dag teen die stad geveg. Hy het dit ingeneem en al die mense daarin doodgemaak. Hy het die stad afgebreek en sout daaroor gestrooi.

46. Toe al die burgers van Migdol-Sigem dit hoor, het hulle na die grafkelder in die tempel van El-Berit toe gegaan.

47. Aan Abimelek is vertel dat al die burgers van Migdol-Sigem daar bymekaargekom het.

48. Toe het hy met sy manne Salmonberg uitgeklim. Hy het 'n byl gevat, 'n boomtak afgekap en dit op sy skouer getel. Toe sê hy vir sy manne: “Julle het gesien wat ek doen. Doen dit ook gou!”

49. Elkeen het toe vir hom 'n tak gekap en hulle het vir Abimelek gevolg. Hulle het dit teen die grafkelder opgestapel met die mense daarbinne, en dit aan die brand gesteek. So het hulle al die burgers van Migdol-Sigem doodgemaak, omtrent duisend mans en vrouens.

50. Daarna is Abimelek na Tebes toe. Hy het dit beleër en ingeneem.

51. In die middel van die stad was daar 'n sterk toring en al die mans en vrouens van Tebes het daarheen gevlug, al die burgers van die stad is daar in. Hulle het hulleself daarin toegesluit en op die dak van die toring gaan staan.

52. Abimelek het by die toring gekom en wou dit bestorm, maar toe hy by die deur van die toring kom om dit aan die brand te steek,

53. het 'n vrou 'n maalklip op sy kop gegooi en sy kopbeen verbrysel.

54. Toe roep hy gou sy wapendraer en sê vir hom: “Trek jou swaard! Maak my dood. Hulle moenie van my kan sê 'n vrou het my doodgemaak nie!”Sy wapendraer het hom toe met die swaard deurboor, en so is Abimelek dood.

55. Toe die Israeliete sien Abimelek is dood, is hulle almal huis toe.

56. So het God die onreg gestraf wat Abimelek sy pa aangedoen het toe Abimelek sy sewentig broers vermoor het.

57. God het ook al die verkeerde dade van die mense van Sigem op hulle koppe laat afkom: die vloek wat Jotam seun van Jerubbaäl oor hulle uitgespreek het, het hulle getref.