hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Tola en Jaïr

1. Na Abimelek het Tola na vore gekom om die Israeliete te red. Hy was 'n seun van Puwwa, seun van Dodo uit Issaskar, en hy het in Samir op die Efraimsberge gewoon.

2. Hy was drie en twintig jaar lank die leier van Israel. Hy het gesterf, en hy is in Samir begrawe.

3. Na hom het Jaïr uit Gilead na vore gekom en hy was twee en twintig jaar lank die leier van Israel.

4. Jaïr het dertig seuns gehad en elkeen het op 'n jong donkie gery. Hulle het dertig dorpe besit en dit word nou nog die tentdorpe van Jaïr genoem. Die dorpe is in Gilead geleë.

5. Jaïr het gesterf, en hy is begrawe in Kamon.

Jefta

6. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Baäls en die Astartes en die gode van Sidon vereer, en ook dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne. Hulle was ontrou aan die Here, hulle het Hom nie gedien nie.

7. Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete en Hy het hulle oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete.

8. Van toe af het die Amoriete die Israeliete in Gilead agtien jaar lank verdruk en mishandel. Gilead was oos van die Jordaan, in die gebied van die Amoriete.

9. Die Amoriete het selfs die Jordaan oorgesteek en teen Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak en Israel swaar laat ly.

10. Toe het die Israeliete tot die Here geroep: “Ons het teen U gesondig. Ons was ontrou aan ons God en ons het die Baäls gedien.”

11. Die Here het vir die Israeliete gesê: “Toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne,

12. die mense van Sidon, Amalek en Maon julle verdruk het en julle tot My geroep het, het Ek julle uit hulle mag gered.

13. Maar julle was nou ontrou aan My, julle het ander gode gedien en daarom het Ek julle nie nou gered nie.

14. Gaan roep tot die gode wat deur julle gekies is. Laat hulle julle red noudat julle swaarkry.”

15. Maar die Israeliete het die Here geantwoord: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in u oë, maar red ons tog net vandag!”

16. Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het 'n end gemaak aan hulle swaarkry.

17. Die Ammoniete is opgeroep en hulle het kamp opgeslaan in Gilead. Die Israeliete het ook bymekaargekom en in Mispa kamp opgeslaan.

18. Die leiers van Gilead het vir mekaar gevra: “Wie sal die oorlog teen die Ammoniete begin? Dié man moet die leier van al Gilead se mense word.”