hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Simson in Gasa

1. Simson is op 'n keer na Gasa toe. Daar het hy 'n prostituut gesien en by haar huis ingegaan.

2. Daar is toe vir die mense van Gasa vertel: “Simson het hierheen gekom.”Hulle het die huis omsingel en hom die hele nag deur voorgelê by die stadspoort. Hulle het die hele nag in stilte gewag en gedink: môre ligdag maak ons hom dood.

3. Maar Simson het net bly lê tot middernag. Toe staan hy op, vat die stadspoort se deure met hulle kosyne en al en ruk hulle so toegesluit uit. Hy het alles op sy skouer teen die berg regoor Hebron opgedra.

Simson en Delila

4. 'n Ruk later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorekvallei. Haar naam was Delila.

5. Die leiers van die Filistyne is toe na haar toe, en hulle het vir haar gesê: “Verlei hom en vind uit waarin lê sy groot krag en hoe ons hom kan oorrompel om hom vas te bind en in ons mag te kry. Elkeen van ons sal jou dan dertien kilogram silwer gee.”

6. Delila het toe vir Simson gevra: “Sê my tog waarin lê jou groot krag, en waarmee kan 'n mens jou vasbind om jou in sy mag te kry?”

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe boogsnare wat nog klam is, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

8. Die leiers van die Filistyne het vir haar sewe boogsnare wat nog klam is, gebring en sy het hom daarmee vasgebind.

9. Daar het ook manne in haar kamer weggekruip. Toe sê sy vir Simson: “Die Filistyne is hier, Simson!”Hy het die boogsnare gebreek soos 'n vlam garingdraad breek, en die geheim van sy krag het onbekend gebly.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het 'n gek van my gemaak en vir my leuens vertel. Sê my tog nou waarmee kan 'n mens jou vasbind.”

11. Hy het gesê: “As ek behoorlik vasgebind word met nuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

12. Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind, en toe sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”Daar het weer manne in haar kamer weggekruip, maar Simson het die toue aan sy arms gebreek asof dit garingdraad was.

13. Delila het vir Simson gesê: “Hoe lank gaan jy nog 'n gek van my maak en vir my leuens vertel? Sê my tog waarmee kan jy vasgebind word.”Hy sê toe vir haar: “Jy moet net my sewe haarlokke in jou materiaal op die weefstoel vasweef.”

14. Toe sy alles klaar met 'n pen vasgesteek het, sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”Hy het wakker geskrik en die materiaal met pen en al uit die weefstoel losgeruk.

15. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg en my nie vertel waarin jou groot krag lê nie.”

16. So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf.

17. Toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Hy het vir haar gesê: “My hare is nooit geskeer nie, want ek is van my geboorte af aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn en ek sal magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

18. Delila het besef dat hy haar hierdie keer sy lewensgeheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat roep: “Kom hierdie keer! Hy het my sy lewensgeheim vertel.”Hulle het toe na haar toe gekom en die geld saamgebring.

19. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en hy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn.

20. Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.

21. Die Filistyne het hom gegryp en sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met 'n dubbele bronsketting geboei. In die tronk moes hy die meul draai.

22. Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.

Simson se laaste daad

23. Die leiers van die Filistyne het bymekaargekom om 'n groot offer te bring vir hulle god Dagon en om fees te vier. Hulle het gesê:“Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee.”

24. Toe die Filistyne hom sien, het hulle hulle god geprys en gesê:“Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee,ons vyand wat ons land verwoes het, hy wat so baie van ons doodgemaak het!”

25. Toe die Filistyne lekker vrolik was, het hulle gesê: “Roep vir Simson dat hy ons kom vermaak.”Hulle het toe vir Simson uit die tronk laat kom, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die tempelpilare laat staan,

26. en hy het vir die helper wat hom aan die hand vasgehou het, gesê: “Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun.”

27. Die tempel was vol mans en vrouens. Al die leiers van die Filistyne was daar, en op die dak was omtrent drie duisend mans en vrouens wat gekyk het hoe Simson hulle vermaak.

28. Toe roep Simson tot die Here: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!”

29. Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander.

30. Toe sê hy: “Laat my sterf saam met die Filistyne.”Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin. So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.

31. Daarna het sy broers en sy hele familie gekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom gevat en gaan begrawe tussen Sora en Estaol, in sy pa Manoag se graf.Simson was twintig jaar lank leier van die Israeliete.