hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Reinigingsvoorskrif vir velsiektes wat onrein maak

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Wanneer iemand gereinig moet word wat gely het aan 'n velsiekte wat hom onrein maak, moet die volgende voorskrif nagekom word. Hy moet na die priester toe gebring word,

3. maar buite die kampplek. Die priester moet die persoon daar ondersoek. As hy genees is van die velsiekte,

4. moet daar op bevel van die priester twee lewende rein voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie gebring word vir die persoon wat gereinig moet word.

5. Op bevel van die priester moet die kop van die een voël afgesny word oor 'n erdebakkie waarin vars water is.

6. Die priester moet dan die lewende voël vat en hom saam met die stukkie sederhout, die bloedrooi garing en die hisoptakkie dompel in die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is oor die bakkie vars water.

7. Hy moet die water met die bloed in sewe maal sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word van sy siekte en hom dan rein verklaar. Daarna moet hy die lewende voël in die veld loslaat.

8. Die persoon wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en bad. Dan is hy rein en mag hy in die kampplek ingaan, maar hy moet nog 'n week buite sy tent bly.

9. “Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer. Hy moet sy hare, sy baard, sy wenkbroue en al sy liggaamshare afskeer. As hy dan sy klere gewas en hom gebad het, is hy rein en mag hy in sy tent ingaan.

10. “Op die agste dag moet hy twee ramlammers en 'n jaaroud ooilam, almal sonder liggaamsgebrek, 'n graanoffer wat bestaan uit vyf kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is, en 'n halwe liter olyfolie na die priester toe bring.

11. Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.

12. Daarna moet die priester die een ramlam en die halwe liter olie as 'n skuldoffer bring; hy moet dit as 'n beweegoffer vir die Here aanbied.

13. Hy moet die lam slag op dieselfde plek waar die sondeoffer en die brandoffer geslag word, op die gewyde plek, want die skuldoffer is net soos die sondeoffer. Dit kom die priester toe, dit is 'n besondere gewyde gawe.

14. Die priester moet van die bloed van die skuldofferlam smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word.

15. Daarna moet die priester van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi,

16. 'n vinger van sy regterhand in die olie druk en dit sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here.

17. Die priester moet van die olie wat in sy handpalm oorbly, bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is.

18. Die priester smeer die res van die olie in sy handpalm aan die kop van die persoon wat gereinig word. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon.

19. Daarby moet die priester ook die sondeofferlam offer en so versoening doen vir die persoon wat gereinig word. Hierna mag die persoon die brandofferlam slag,

20. en die priester moet dit saam met die graanoffer op die altaar verbrand. Wanneer die priester so versoening gedoen het vir die persoon, is hy rein.

21. “As die persoon egter so arm is dat hy nie gewone offers kan bekostig nie, kan hy 'n ramlam gebruik as skuldoffer. Dit moet as beweegoffer aangebied word om vir hom versoening te doen, saam met 'n graanoffer bestaande uit een en 'n half kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is en 'n halwe liter olyfolie.

22. Verder moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe gebruik, een vir die sondeoffer en een vir die brandoffer.

23. Hy moet dit op die agste dag van sy reiniging vir die priester bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.

24. Die priester moet dan die skuldofferlam en die halwe liter olie as beweegoffer vir die Here aanbied.

25. Daarna moet die priester die skuldofferlam slag en van die bloed smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word.

26. Daarna moet die priester van die olie in die palm van sy eie linkerhand gooi

27. en dit met 'n vinger van sy regterhand sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here.

28. Hy moet ook van die olie in sy handpalm bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is wat gereinig word.

29. Die priester smeer die olie wat in sy handpalm oor is, aan die persoon se kop. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon.

30. Die priester moet dan een van die twee tortelduiwe of ander duiwe wat die man gebring het,

31. as 'n sondeoffer bring en die ander as 'n brandoffer saam met die graanoffer. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon wat gereinig word.

32. Hierdie voorskrif moet geld in die geval van 'n persoon wat 'n velsiekte gehad het wat hom onrein gemaak het en wat nie die gewone reinigingsoffers kan bekostig nie.”

Reinigingsvoorskrifte vir huise

33. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

34. “Julle gaan intrek in die land Kanaän wat Ek vir julle as besitting gee. As Ek dan swamme laat groei in een van die huise in die land wat julle sal besit,

35. moet die eienaar van die huis vir die priester gaan sê: ‘Dit lyk my daar is 'n swamplaag in my huis.’

36. Die priester moet dan beveel dat die huis ontruim word voordat hy die swamme gaan ondersoek, anders word alles in die huis dalk onrein verklaar. Eers daarna kan hy die huis gaan ondersoek.

37. As die priester sien dat die swamme aan die mure van die huis sit en dat dit groenerige of rooierige holtes vorm wat lyk of dit dieper is as die oppervlak van die muur,

38. moet hy uit die huis uitgaan en toegang tot die huis 'n week lank verbied.

39. Op die sewende dag moet die priester die huis weer ondersoek. As die swamme aan die mure versprei het,

40. moet die klippe waaraan die swamme is, uitgebreek word op bevel van die priester en buite die dorp op 'n onrein plek weggegooi word.

41. Al die pleister in die huis moet dan afgekrap en ook buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

42. Hulle moet dan ander klippe in die muur inbou en die hele huis oorpleister.

43. “As daar weer swamme groei nadat die klippe uitgebreek, die pleister afgekrap en die huis oorgepleister is,

44. moet die priester weer gaan kyk. As dit inderdaad weer uitgeslaan het, is dit skadelike swamme. Daardie huis is onrein.

45. Dit moet afgebreek word en die klippe, houtwerk en klei moet buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

46. Iemand wat in die huis ingaan in die tyd dat toegang verbied is, sal die res van die dag onrein wees

47. en as hy in die huis slaap of eet, moet hy ook sy klere was.

48. “As die priester egter vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die huis oorgepleister is nie, moet hy dit rein verklaar aangesien daar nie meer swamme is nie.

49. Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie vat.

50. Hy moet die kop van die een voël afsny oor 'n erdebakkie waarin vars water is,

51. en dan die stukkie sederhout, die hisoptakkie, die bloedrooi garing en die lewende voël dompel in die vars water met die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet die water met die bloed in sewe keer teen die huis sprinkel.

52. So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water en deur middel van die lewende voël, die stukkie sederhout, die hisoptakkie en die bloedrooi garing.

53. Daarna moet hy die lewende voël buite die dorp loslaat in die oop veld. So doen die priester versoening vir die huis en word dit rein.”

54. Die voorafgaande voorskrifte het betrekking op skurfsiekte,

55. skimmel aan klere, swamme in 'n huis,

56. swelsels, uitslag en sere wat onrein maak.

57. So moet vasgestel word wanneer iets rein of onrein is. Dit is die voorskrif in verband met dinge wat onrein maak.