hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die dood van Nadab en Abihu

1. Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was.

2. 'n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here.

3. Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”Aäron was sprakeloos.

4. Moses het daarna vir Misael en Elisafan, seuns van Aäron se oom Ussiël, geroep en vir hulle gesê: “Gaan nader en vat julle familielede weg voor die heiligdom en dra hulle uit die kamp uit.”

5. Hulle het toe nader gegaan en die dooies in hulle ampsklere uitgedra na 'n plek buite die kamp soos Moses gesê het.

6. Moses het Aäron en sy twee seuns Eleasar en Itamar beveel: “Moenie rou deur julle hare onversorg te laat en julle klere te skeur nie. As julle rou, sal julle sterwe, en sal die Here toornig wees op die hele gemeente. Maar julle volksgenote, al die Israeliete, mag rou oor hierdie vuurdood wat van die Here gekom het.

7. Julle mag ook glad nie van die ingang van die tent van ontmoeting af weggaan nie. As julle dit doen, sal julle sterwe, want die salfolie van die Here het julle aan Hom gewy.”Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.

Voorskrifte vir die priesters

8. Die Here het vir Aäron gesê:

9. “Jy en jou seuns mag geen wyn of bier drink wanneer julle moet gaan diens doen in die tent van ontmoeting nie, want dan sal julle sterwe. Dit is 'n vaste voorskrif, ook vir julle nageslag.

10. Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd is en wat nie gewyd is nie, tussen wat onrein is en wat rein is.

11. Julle moet al die voorskrifte wat die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer.”

12. Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog gelewe het, Eleasar en Itamar, gesê: “Vat die graanoffer wat oorgebly het nadat die vuuroffer aan die Here gebring is, en eet dit by die altaar. Daar mag nie suurdeeg by kom nie. Omdat dit 'n besondere gewyde gawe is,

13. moet julle dit op 'n gewyde plek eet. Volgens die bevel wat ek ontvang het, is dit julle deel uit die vuuroffer wat aan die Here gebring word.

14. Maar die borsstuk van die beweegoffer en die boud uit die offergawe mag julle en julle familie op enige rein plek eet, want dit is die deel wat julle en julle familie toekom uit die maaltydoffers van die Israeliete.

15. Die Israeliete moet die boud uit die offergawe en die borsstuk wat as beweegoffer vir die Here aangebied is, bring wanneer hulle die vetdele bring wat vir die vuuroffer bedoel is. Hulle moet dit as beweegoffers aan die Here aanbied. Daarna kry julle dit. Die Here het beveel dat dit 'n vaste voorskrif moet wees.”

16. Toe Moses op 'n keer navraag doen oor die sondeofferbok en hy uitvind dat dit verbrand is, was hy kwaad vir Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron wat nog gelewe het. Hy vra toe:

17. “Waarom het julle nie die sondeoffer op 'n gewyde plek geëet nie? Dit is 'n besondere gewyde gawe en die Here het dit aan julle gegee om die sonde van die gemeente weg te neem; dit is bedoel om vir hulle by die Here versoening te doen.

18. Omdat die bloed nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die sondeoffer in die heiligdom geëet het soos ek julle beveel het.”

19. Aäron antwoord toe daarop: “Die mense hét vandag hulle sondeoffer en brandoffer aan die Here gebring, en tog het hierdie ramp my getref! Sou dit dan enige verskil gemaak het as ek die sondeoffer geëet het?”

20. Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.