hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die brandoffer

1. Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê:

2. “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here 'n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.

3. “As dit 'n brandoffer uit die beeste is, bied die man 'n bul aan sonder liggaamsgebrek. Hy bied dit aan by die ingang van die tent van ontmoeting sodat dit vir die Here aanneemlik sal wees.

4. Daarna sit hy sy hand op die offerdier se kop sodat dit aanvaar sal word as versoening vir hom.

5. Dan slag hy die bul daar in die teenwoordigheid van die Here, en die Aäronitiese priesters bring die bloed en sprinkel dit rondom teen die altaar by die ingang van die tent van ontmoeting.

6. Die man slag die offerdier af en sny dit in stukke op.

7. Die Aäronitiese priesters maak dan vuur op die altaar en sit hout op die vuur.

8. Dan sit hulle die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur.

9. Die man was die binnegoed en die pote af, en 'n priester verbrand alles op die altaar. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

10. “As dit 'n offer uit die kleinvee is, 'n brandoffer uit die skape of bokke, bied die man 'n ram aan sonder liggaamsgebrek.

11. Hy slag die dier daar in die teenwoordigheid van die Here, aan die noordekant van die altaar, en die Aäronitiese priesters sprinkel die bloed rondom teen die altaar.

12. Dan sny die man die offerdier in stukke op, en die priesters sit die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur.

13. Die man was die binnegoed en die pote af, en die priester bring alles op die altaar en verbrand dit. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

14. “As dit 'n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy 'n tortelduif of 'n ander duif aan.

15. Die priester bring dit op die altaar, knyp die kop af en verbrand dit op die altaar. Die bloed word eers teen die kante van die altaar uitgedruk;

16. dan verwyder die priester die krop en die vere en gooi dit langs die altaar aan die oostekant op die plek vir die as,

17. en nadat hy die duif tussen die vlerke oopgeskeur het sonder om dit heeltemal middeldeur te skeur, verbrand hy dit in die vuur op die altaar. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”