hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete: Elke Israeliet en vreemdeling in Israel wat sy kind aan Molek wy, moet met die dood gestraf word: die burgers moet hom met klippe doodgooi,

3. anders sal Ek self teen so iemand optree en hom van sy volksgenote afsny omdat die wyding van 'n kind aan Molek my heiligdom onrein maak en my heilige Naam ontheilig.

4. As die burgers hulle oë sluit vir so 'n oortreding en nie die skuldige doodmaak nie,

5. sal Ek self ingryp en so iemand en sy familie sowel as almal wat saam met hom ontrou is en vir Molek dien, van sy volksgenote afsny.

6. Enigiemand wat aan My ontrou is deur hulp te soek by geeste of waarsêers, teen hom sal Ek optree: Ek sal hom van sy volksgenote afsny.

7. Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God.

8. Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My.

9. “Wanneer iemand sy pa of sy ma vloek, moet hy doodgemaak word. Hy het sy pa of sy ma gevloek en hy verdien die dood.”

Oor seksuele verhoudings

10. “Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van 'n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.

11. Iemand wat gemeenskap het met een van sy pa se vrouens, bring skande oor sy pa. Hy en die vrou moet albei doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

12. Iemand wat met sy skoondogter gemeenskap het, moet doodgemaak word, en sy ook. Hulle het iets afskuweliks gedoen. Hulle verdien die dood.

13. “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen 'n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

14. Iemand wat met 'n ma en haar dogter trou, begaan 'n afskuwelike sonde. Hulle moet al drie 'n vuurdood sterf. Julle mag sulke afskuwelike sondes nie duld nie.

15. “'n Man wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word, en die dier ook.

16. 'n Vrou wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word, en die dier ook. Sulke mense moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

17. “As 'n man met sy suster of halfsuster se toestemming gemeenskap met haar het, is dit 'n skandelike daad. Hulle moet in die openbaar van hulle volksgenote afgesny word. Hy het skande oor sy suster gebring en moet die gevolge dra.

18. As 'n man met die toestemming van 'n vrou wat menstrueer, gemeenskap met haar het, moet albei afgesny word van hulle volksgenote.

19. “Niemand mag gemeenskap hê met sy tante aan moederskant of aan vaderskant nie, want sy is 'n naaste bloedverwant. As dit gebeur, moet albei gestraf word.

20. As iemand met sy oom se vrou gemeenskap het, bring hy skande oor sy oom. Die man en die vrou moet die gevolge dra: hulle sal sterf as mense wat alle regte verbeur het.

21. As 'n man sy broer se vrou afneem, is dit 'n skandelike daad. Die man het skande oor sy broer gebring. Die man en die vrou verbeur al hulle regte.

22. “Julle moet al my voorskrifte en bepalings gehoorsaam en dit uitvoer. As julle dit nie doen nie, sal die land waarheen Ek julle laat trek om daar te woon, julle uitspoeg.

23. Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis 'n afsku van hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen.

24. Ek het julle belowe dat julle hulle land in besit sal neem. Dit is Ek wat hierdie land aan julle gee om dit in besit te neem, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die Here julle God, Ek het julle afgesonder van die ander volke.

25. Daarom moet julle by diere en voëls onderskeid maak tussen rein en onrein. Julle mag julle nie besoedel met die diere of voëls of met enigiets wat op die aarde kruip wat Ek afgesonder het as dinge waardeur julle onrein gemaak word nie.

26. Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig. Ek het julle afgesonder uit die volke om aan My te behoort.

27. Enige mens wat hom ophou met die oproep van geeste of met beswering, moet doodgemaak word. Hy moet met klippe doodgegooi word. Hy verdien die dood.”