hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Rein en onrein kos

1. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2. “Sê vir die Israeliete: Van al die diere wat op land hou, mag julle

3. net dié eet wat volledig gesplete kloue het en herkou.

4. Maar dié wat net herkou of net gesplete kloue het, mag julle nie eet nie. Dit geld vir die kameel, want, alhoewel die dier herkou, het hy nie gesplete kloue nie. Julle moet hom dus as onrein beskou.

5. Dit geld ook vir die dassie

6. en vir die haas.

7. 'n Vark het weer volledig gesplete kloue, maar hy herkou nie. Hy is vir julle dus 'n onrein dier.

8. Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie: hulle is vir julle onrein.

9. “In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het. Dit geld vir soutwaterdiere en varswaterdiere.

10. Maar enige ding wat in die water lewe en nie vinne en skubbe het nie, is vir julle verbode.

11. Hulle is vir julle verbode en julle mag glad nie van dié diere eet of selfs raak aan een wat dood is nie.

12. Alle waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, is dus vir julle verbode.

13. “In die geval van diere met vlerke is die volgende soorte verbode en hulle mag dus nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende;

14. aasvoëls en valksoorte;

15. al die kraaisoorte;

16. volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls;

17. uile, visvangers, ibisse,

18. flaminke, pelikane, swane,

19. ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise.

20. “Alle insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.

21. Julle mag egter dié eet waarvan die pote so is dat hulle kan spring.

22. Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke.

23. Alle ander insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.

24. “Sommige diere se karkasse maak iemand wat net daaraan raak, onrein vir die res van die dag.

25. As iemand die karkas van so 'n dier gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is vir die res van die dag onrein.

26. Dit is alle mak diere waarvan die pote nie volledig gesplete is nie en wat nie ook herkou nie. Dit is onrein diere, en elkeen wat aan die karkas van so 'n dier raak, is onrein.

27. Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein. As iemand aan die karkas van so 'n dier raak, is hy onrein vir die res van die dag.

28. As hy so 'n karkas gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is nog vir die res van die dag onrein.

29. “Die volgende diertjies wat volop voorkom in die veld, moet julle as onrein beskou: molle, muise en al die akkedissoorte

30. soos geitjies, sandakkedisse, boomakkedisse, gewone akkedisse en ook verkleurmannetjies.

31. Dit is onrein diertjies en elkeen wat aan so 'n diertjie raak as hy dood is, is die res van die dag onrein.

32. Enigiets waarop so 'n dooie diertjie val, is ook onrein. Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, lap, leer of growwe linne, enige gewone gebruiksartikel. Dit moet in water gedruk word, maar is nog vir die res van die dag onrein. Eers daarna is dit rein.

33. As een van die diertjies in 'n kleipot val, is alles wat in die pot is, onrein. Die pot moet dan gebreek word,

34. want enige kos waarby water uit so 'n pot gegooi is, is onrein, en enige vloeistof uit so 'n pot is onrein.

35. Enigiets waarop een so 'n dooie diertjie val, is onrein. 'n Kleioond of kleikookplek moet in so 'n geval afgebreek word; dit het onrein geword, en julle moet dit as onrein beskou.

36. 'n Fontein of opgaardam is wel nie onrein as so 'n dooie diertjie daarin val nie, maar iemand wat aan die diertjie raak, is onrein.

37. As so 'n dooie diertjie op saad val wat gesaai gaan word, word die saad nie onrein nie.

38. As dit egter gebeur wanneer die saad in water lê om te week, is dit onrein.

39. “As enige dier wat julle wel mag eet, vrek, is iemand wat aan die karkas raak, die res van die dag onrein.

40. As iemand van die dooie dier se vleis eet of die karkas dra, moet hy sy klere was, maar self is hy die res van die dag onrein.

41. “Alle klein diertjies wat volop voorkom in die veld, is vir julle verbode:

42. of hulle nou seil of op vier pote loop of baie pote het, julle mag nie een van hulle eet nie, want dit is verbode.

43. Julle moet julle nie besoedel met een van dié diere dat julle onrein word nie.

44. Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie.

45. Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.

46. “Dit is dan die reëling wat betrekking het op diere en voëls en op alles wat in water lewe en wat op die grond beweeg.

47. Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.”