hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Stappe teen die ontroue vrou

1. “Maar nou, kla julle ma aan. Sy is nie meer my vrou nie en Ek is nie meer haar man nie. Sê vir haar om ontslae te raak van haar grimering en suggestiewe klere en op te hou om soos ’n prostituut op te tree.

2. Anders sal Ek haar kaal uittrek soos op die dag van haar geboorte. Ek sal haar maak soos ’n woestyn, soos ’n dor land sodat sy sterf van die dors.

3. Ek sal ook nie haar kinders liefhê soos my eie nie, want hulle is nie my kinders nie. Hulle is deur ander mans verwek.

4. Want hulle ma is ’n skaamtelose prostituut en het op ’n skandelike manier swanger geword. Sy het gesê: ‘Ek sal agter my minnaars aan gaan, hulle wat vir my kos en drank, klere van wol en vlas, en olie gee.’

5. “Daarom sal Ek haar pad met doringtakke ontoeganklik maak, dit met ’n klipmuur toebou sodat sy nie haar paaie kry nie.

6. Wanneer sy agter haar minnaars aan loop, sal sy hulle nie kan inhaal nie. Sy sal na hulle soek, maar hulle nie kry nie. Dan sal sy dink: ‘Ek moet maar na my man toe teruggaan, want by hom het dit beter met my gegaan as nou.’

7. Sy besef nie dat dit Ek is wat haar alles gegee het wat sy het nie: koring, wyn en olie – selfs die goud en silwer wat sy vir die afgod Baäl geoffer het!

8. “Daarom sal Ek my koring en my wyn wat Ek elke oestyd vir haar gegee het, terugneem. Ek sal my wol en my vlas wegneem, dit wat Ek vir haar gegee het om daarmee haar naaktheid toe te maak.

9. Ek sal haar in die openbaar kaal uittrek terwyl haar minnaars toekyk. Nie een van hulle sal haar uit my hand kan red nie.

10. Ek sal ’n einde maak aan haar jaarlikse feeste, haar Nuwemaanfeeste en haar Sabbatsfeeste – trouens al haar vasgestelde feeste.

11. Ek sal haar wingerde en vyebome verwoes, dinge waarvan sy sê: ‘Dis betaling wat my minnaars vir my gegee het.’ Ek sal dit tot ’n ruigte maak sodat net wilde diere daarvan sal vreet.

12. Ek sal haar straf vir al die kere dat sy wierook vir die beelde van die Baäls gebrand het, haar behang het met oorringe en juwele, en uitgegaan het om haar minnaars te soek. Maar aan My het sy nie gedink nie,” sê die Here.

Die liefde van die Here vir sy

ontroue vrou Israel

13. “Daarom sal Ek haar naderlok en weer terugwen. Ek sal haar na die woestyn toe lei en daar teer dinge vir haar sê.

14. Ek sal daar haar wingerde aan haar teruggee. Dan sal die Akorvlakte verander in ’n deur van hoop. Daar sal sy weer Myne word soos lank gelede toe sy nog jonk was en Ek haar uit slawerny in Egipte bevry het.

15. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy My noem ‘my man’ en nie meer ‘my meester’ nie.

16. Israel, Ek sal sorg dat jy jou Baälbeelde sal vergeet. Jy sal selfs hulle name nie meer noem nie.

17. Dan sal Ek ’n ooreenkoms maak met die wilde diere en die voëls en die diere wat op die grond kruip, en Ek sal oorloë en al die oorlogswapens, swaard en boog, uit die land wegneem, alles sodat jy onbevrees in vrede en veiligheid kan lewe.

18. Ek sal jou my vrou maak vir altyd. Ek sal jou aan My vasbind deur regverdigheid en geregtigheid, getroue liefde en deernis.

19. Ek sal getrou aan jou bly en jou Myne maak, en jy sal uiteindelik vir My ken as die Here.

20. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek antwoord en die hemel sal die aarde antwoord sodat dit reën.

21. Dan sal die grond antwoord met koring en wyn en olie, en ’n koor sal weerklink: Jisreël (dis God wat saai)!

22. “Dan sal Ek Israel vir Myself plant. Ek sal ontferming betoon aan hulle wat Ek genoem het ‘Geen-ontferming’. En vir hulle wat Ek genoem het: ‘Nie-my-volk-nie’, sal Ek dan sê: ‘Julle is my volk.’ Dan sal hulle antwoord: ‘U is ons God!’”