hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Here se liefde vir Israel

1. “Ek het Israel liefgehad toe hy nog ’n kind was. Ek het my seun uit Egipte geroep.

2. Maar hoe meer die Baäls hom geroep het, hoe verder het hy van My af weggegaan. Hulle het aan die Baäls offers gebring en wierook vir afgodsbeelde gebrand.

3. Dit was Ekself wat Israel geleer het om te loop; Ek het hom in my arms gedra. Maar hy het nie erken dat dit Ek was wat hom versorg het nie.

4. Met mensebande, met toue van liefde het Ek hulle gelei. Ek was vir hulle soos iemand wat die slawering wat teen hulle nek druk, afhaal. Ek het My na hom toe neergebuig. Ek het hom versorg.

5. “Maar omdat my volk geweier het om na My toe terug te kom, sal hulle teruggaan na Egipte toe; hulle sal dwangarbeid in Assirië moet doen.

6. Oorlog sal deur hulle stede woed, die grendels sal vernietig word, en weens hulle planne verteer word.

7. My volk is vasberade om My te verlaat. Hulle noem My die Allerhoogste, maar hulle eer My nie werklik nie.

8. “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Israel? Hoe kan Ek jou laat gaan, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is omgekeer in My, my medelye loop oor.

9. Nee, Ek sal jou nie in driftige woede straf nie. Ek sal nie kom om Israel te vernietig nie, want Ek is God, en nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat tussen julle lewe. Ek sal nie in toorn kom om julle te vernietig nie.

10. “Hulle sal agter die Here aan kom. Soos ’n leeu sal Hy brul. Wanneer Hy brul, sal sy kinders bewend terugkom uit die weste.

11. Soos ’n swerm voëls sal hulle vol ontsag uit Egipte kom. Soos duiwe sal hulle uit Assirië terugkeer. Ek sal hulle weer huis toe bring,” sê die Here.