hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Aanklagte teen Israel en Juda

1. Israel omring my met leuens en bedrog. En Juda is steeds wispelturig teenoor God en is getrou aan die afgode.

2. Israel hou hom op met die wind. Hy is die hele dag agter die oostewind aan. Hy vermeerder leuens en geweld. Hulle sluit verdrae met Assirië, maar as teken van hulle verbintenis stuur hulle olie na Egipte toe.

3. Die Here gaan nou ’n saak maak teen Juda. Hy staan op die punt om Israel te straf vir sy dade en hom te vergeld oor sy valse weë.

4. Voor Jakob se geboorte het hy sy broer se hakskeen vasgehou; as volwassene het hy met God kragte gemeet.

5. Hy het selfs met ’n Engel geworstel en gewen. Hy het gehuil en by Hom gepleit vir ’n seën. By Bet-El het hy God van aangesig tot aangesig ontmoet en daar het God met hom gepraat,

6. die Here, die almagtige God. Die Here is sy Naam!

7. Kom nou terug na jou God toe! Tree op met liefde en regverdigheid, en lewe voortdurend met ’n vaste vertroue op jou God.

8. Maar nee, die volk is soos ’n geslepe handelaar met valse weegskale – hy hou daarvan om te bedrieg.

9. Israel spog: “Ek is ryk, en ek het dit alles self verwerf! Niemand kan sê dat ek dit op ’n oneerlike manier gekry het nie! Ek is onskuldig aan enige oortreding!”

10. “Maar Ek is die Here jou God sedert jou slawerny in Egipte. Ek sal jou weer in tente laat woon soos destyds, soos tydens die woestyntyd.

11. Ek het deur my profete gepraat, hulle baie visioene laat sien. Ek het deur die profete in gelykenisse gewaarsku.”

12. Is Gilead vol boosheid? Hulle sal sekerlik tot niks kom nie. Offer hulle bulle in Gilgal? Hulle altare sal soos kliphope in rye langs die landerye wees.

13. Jakob moes na Aram toe vlug, Israel moes slawediens doen om ’n vrou te kry. Om ’n vrou te kry, moes hy skape oppas.

14. Die Here het deur ’n profeet Jakob se afstammelinge, die Israeliete, uit Egipte gelei. Die profeet het hulle gelei en beskerm.

15. Maar die volk Israel het die Here baie uitgetart en verdien die dood. Daarom sal die Here hulle straf oor hulle dade.