hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die regsaak teen al die leiers

1. “Luister hier, julle priesters! Gee aandag, leiers van Israel! Hoor hier, lede van die koningshuis! Hierdie oordeel is oor julle: Julle is gedoem! Want julle het in Mispa ’n strik gestel en in Tabor ’n vangnet gespan waardeur die volk tot afgodery verlei is.

2. In Sittim het julle ’n diep vanggat gegrawe. Maar wees gewaarsku! Ek gaan met julle almal afreken oor julle dade.

3. Ek ken jou, Efraim! Israel kan nie vir My wegkruip nie! Jy het my verlaat soos ’n prostituut haar man los. Jy is onrein.

4. Julle optrede verhinder julle om terug te kom na julle God toe. ’n Gees van ontug is in julle midde soos met ’n prostituut. Daarom ken julle nie die Here nie.

5. “Die verwaandheid van Israel getuig teen hom. Israel en Efraim sal onder die vrag van skuld struikel. Ook Juda sal saam met hulle val.

6. Dan sal hulle uiteindelik met hulle kleinvee en grootvee kom om dit aan die Here te offer. Maar dit sal te laat wees! Hulle sal Hom nie kry nie, want Hy het Hom aan hulle onttrek. Hulle is nou alleen.

7. Hulle was ontrou aan die Here deur kinders te verwek wat nie Syne is nie. Nou sal hulle elke maand saam met hulle landerye verslind word.

8. “Blaas die ramshoring in Gibea, die trompet in Rama! Maak alarm in Bet-Awen! Benjamin is agter jou aan!

9. Een ding is seker, stamme van Israel: Wanneer jou dag van afrekening kom, sal jy verwoes word.

10. “Die leiers van Juda het Israel soos diewe van hulle grond beroof. Daarom sal Ek my toorn soos ’n watervloed oor hulle uitgiet.

11. Efraim is verdruk; in die oordeel is hy verpletter omdat hy volgehou het om nikswerd afgode te dien.

12. “Ek is vir Efraim soos ’n gewas en vir Juda soos ’n verrotting.

13. Toe Israel besef hy is siek en Juda sy sweer sien, het Israel hulp gaan soek by Assirië. Hy het iemand na die groot koning gestuur. Maar hy kan julle nie gesond maak of die sweer genees nie.

14. Ek is soos ’n leeu wat Israel en Juda uitmekaarskeur. Ek sal hulle wegdra, en daar sal niemand wees wat hulle kan red nie.

15. Dan sal Ek terugkeer na my plek toe totdat hulle hulle skuld bely en na My opsien vir hulp. Sodra hulle moeilikheid het, dán sal hulle My soek.”