hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hosea kondig Israel se straf aan

1. Israel, moenie jou verheug soos ander volke doen nie. Jy was ontrou aan jou God. Jy het die loon van ’n prostituut gesoek deur op elke dorsvloer offers aan ander gode te bring.

2. Daarom sal die dorsvloer en die parskuip te min oplewer om julle te voed en die wynoes sal misluk.

3. Julle mag nie langer in hierdie land van die Here bly woon nie. Israel sal weggeneem word na Egipte toe en in Assirië sal julle leef van kos wat seremonieel onrein is.

4. Daar sal julle nie wyn as ’n offer vir die Here uitgiet nie en niks van julle offers sal Hom aanstaan nie. Sulke offers sal net so onrein wees soos kos uit ’n huis waar daar gerou word: elkeen wat dit eet, sal ook onrein wees. Julle mag dit self eet, maar dit mag nie in die huis van die Here gebring word nie.

5. Wat sal julle dan op feesdae doen, op die feesdae in die teenwoordigheid van die Here?

6. Selfs as hulle die verwoesting van die Assiriërs ontvlug het, sal hulle in Egipte versamel en in Memfis begrawe word. Doringstruike sal hulle skatte van silwer toegroei en onkruid hulle blyplekke.

7. Die oomblik van Israel se straf het aangebreek. Die dag van vergelding is hier. Israel sal dit deeglik besef. “Die profeet is ’n dwaas!” skree die mense. “Die man van die Gees is van sy kop af!” spot hulle. Dis omdat jou sonde so baie en jou vyandigheid so groot is teenoor hulle wat God dien.

8. My God het die profeet as wagter oor Efraim gestuur, maar oral waar hy gaan, stel hulle valstrikke voor hom. Selfs in die huis van sy God is daar vyandigheid.

9. Hulle dade is net so bedorwe soos destyds by Gibea. God sal dit onthou. Hy sal hulle sekerlik daaroor straf.

10. “Israel, toe Ek jou die eerste keer teëgekom het,” sê die Here, “was dit soos om druiwe in die woestyn te kry. Toe Ek jou voorgeslagte gesien het, was dit soos om die eerste ryp vye van die seisoen te sien. Maar toe hulle by Baäl-Peor kom, het hulle My verlaat en hulle aan daardie skandelike afgod verbind. Hulle het gou net so veragtelik geword soos die afgod wat hulle gedien het.

11. Soos ’n voël wegvlieg, so sal die aansien van Israel verdwyn: daar sal geen kinders, geen swangerskap en geen bevrugting wees nie.

12. Selfs as julle kinders tog bly lewe en grootword, sal Ek hulle van julle wegneem sonder dat een oorbly. Ellende wag vir hulle wanneer Ek wegdraai en hulle alleen agterlaat!

13. Israel was vir My soos Tirus, geplant in ’n weiland. Maar nou sal Israel hulle kinders uitbring om doodgemaak te word.”

14. Gee vir hulle, Here – wat sal U vir hulle gee? Gee vir hulle baarmoeders wat nie geboorte gee nie en borste sonder melk!

15. Die Here sê: “Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Daar het Ek hulle begin haat oor hulle bose dade. Ek sal hulle uit my huis verdryf. Ek sal hulle nie meer liefhê nie, want al hulle leiers is in opstand teen My.

16. Israel is getref. Sy wortels het verdroog; hy sal nie meer vrugte dra nie. En al bring hulle kinders in die wêreld, sal Ek hulle kinders wat hulle so liefhet, laat omkom.”

17. My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie. Hulle sal swerwelinge wees onder die nasies.