Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Jehu het teruggegaan na die offisiere van die koning. Een van hulle het vir hom gevra: “Wat wou die kranksinnige man hê? Is alles reg?”“Jy ken mos die praatjies van so ’n mens,” antwoord Jehu.

12. “Jy vertel nie die waarheid nie,” sê hulle. “Toe, sê nou vir ons!” Jehu antwoord hulle: “Dis wat hy gesê het: ‘Die Here salf jou as koning oor Israel.’”

13. Hulle het dadelik hulle klere voor hom op die trappe uitgesprei en op die trompet geblaas terwyl hulle skreeu: “Jehu is koning!”

14. Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi het saamgesweer teen koning Joram. Joram was saam met die hele leër van Israel by Ramot in Gilead, besig om Israel teen koning Gasael van Aram te verdedig.

15. Maar Joram het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel van die wonde wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael van Aram. Jehu sê vir die manskappe by hom: “As julle met my saamstem, sorg dan dat niemand wegkom uit die stad om dit in Jisreël te vertel nie.”

16. Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gery. Koning Joram het daar van sy wonde herstel en koning Ahasia van Juda het hom daar gaan besoek.

17. Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.

18. Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”

19. Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

20. Die wag sê weer: “Die perderuiter het by hulle aangekom, maar hy kom ook nie terug nie! Die een wat voor ry, lyk soos Jehu seun van Nimsi, want hy ry soos ’n besetene.”

21. “Gou, kry my strydwa gereed!” beveel koning Joram.Die perde is ingespan en koning Joram van Israel het hom tegemoetgegaan. Koning Ahasia van Juda het ook op sy wa geklim en saamgery. Hulle het Jehu by die grond wat aan Nabot van Jisreël behoort het, ontmoet.

22. Toe koning Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”Jehu antwoord: “Wat praat jy van vrede terwyl jou ma, Isebel, al hierdie afgodery en toordery beoefen?”

23. Toe draai koning Joram sy strydwa om en vlug terwyl hy vir koning Ahasia skree: “Verraad, Ahasia!”

24. Maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen sy blaaie getref. Die pyl het sy hart deurboor sodat hy op sy strydwa inmekaargesak het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9