Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:2-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Die vrou het gemaak soos die man van God vir haar gesê het. Sy en haar gesin het toe vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan woon.

3. Toe die hongersnood na sewe jaar verby was, het sy teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het na die koning toe gegaan en hom gesmeek om haar huis en grond weer terug te kry.

4. Die koning was besig om met Gehasi, die dienaar van die man van God, te praat. Die koning het so pas vir hom gesê: “Vertel my tog van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.”

5. Gehasi was besig om die koning te vertel van die seun wat Elisa weer laat lewe het. Op daardie oomblik het die ma van die seun ingekom om haar versoek oor haar huis en haar grond aan die koning te stel.“My heer!” roep Gehasi uit. “Dis die vrou, en dis haar seun, die een wat Elisa weer laat lewe het!”

6. “Is dit so?” vra die koning vir haar. Sy het hom toe alles vertel. Daarop beveel hy een van sy amptenare om haar behulpsaam te wees en sê: “Jy moet sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die waarde van enige oes wat gedurende haar afwesigheid ingesamel is.”

7. Op ’n keer het Elisa na Damaskus, die hoofstad van Aram, gegaan. Op dié tydstip was koning Ben-Hadad, die koning van Aram, siek. Iemand het vir die koning vertel dat die man van God daar aangekom het.

8. Toe die koning dit hoor, sê hy vir Gasael: “Neem geskenke en gaan na die man van God toe. Sê vir hom hy moet die Here vra of ek van hierdie siekte gesond sal word.”

9. Gasael neem toe van die mooiste handelsware van Damaskus en laai dit op 40 kamele as ’n geskenk vir Elisa. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienaar Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy gesond sal word.”

10. Elisa het geantwoord: “Gaan en sê vir hom: ‘Jy sal beslis gesond word.’ Maar die Here het aan my bekendgemaak dat hy beslis sal sterf.”

11. Elisa het stip na Gasael gekyk sodat Gasael ongemaklik geword het. Toe het die man van God in trane uitgebars.

12. “Waarom huil U, Meneer?” vra Gasael.Elisa antwoord hom: “Ek huil omdat ek weet van die verskriklike dinge wat jy die Israeliete sal aandoen. Jy sal hulle vestings afbrand, hulle jong mans doodmaak, hulle kinders teen die grond verpletter en hulle swanger vroue oopsny!”

13. Gasael antwoord: “Hoe kan ek, wat niksbeduidend is, so iets doen?”Maar Elisa antwoord: “Die Here het vir my bekendgemaak dat jy koning oor Aram sal word.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8