Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 7:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.”

10. Hulle gaan toe na die stad, roep na die poortwagters en vertel hulle wat gebeur het: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, ontdek ons daar was nie ’n mens te sien of te hoor nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente het almal nog net so daar gestaan.”

11. Die poortwagters het geskreeu en die nuus oorgedra aan die koning in die paleis.

12. In die middel van die nag het die koning opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal vir julle sê wat die Arameërs se plan met ons is! Hulle weet ons het nie kos nie. Daarom het hulle die kamp verlaat en êrens in die veld gaan wegkruip. Hulle dink: ‘Kom ons wag dat hulle uitgaan uit die stad. Dan sal ons hulle lewendig vang en self die stad binnegaan.’”

13. Een van sy amptenare antwoord: “Laat ’n paar manne vyf van die perde wat oorgebly het, vat en gaan vasstel wat is wat. As daar iets met hulle gebeur, sal dit nie ’n groter verlies wees as wanneer hulle hier bly en saam met ons sterf nie.”

14. Twee strydwaens met hulle perde is toe gereedgemaak. Die koning het hulle gestuur om te kyk wat van die Aramese leër geword het.

15. Hulle het tot by die Jordaanrivier agter hulle aangegaan. Die hele pad was besaai met klere en ander goedere wat die Arameërs weggegooi het in hulle haas om te vlug. Die verkenners het teruggekom en dit vir die koning vertel.

16. Toe het die inwoners van Samaria uit die stad gestorm en die Arameërs se kamp geplunder. So het dit dan gebeur dat vyf kilogram meel of dubbel die hoeveelheid gars net ’n sikkel silwer gekos het, net soos die Here belowe het.

17. Die koning stel toe die adjudant, sy vertroueling, aan om die oorvloed bedrywighede by die poort te beheer. Maar die inwoners het hom in die poort doodgetrap.Alles het net so gebeur soos wat die man van God gesê het toe die koning na sy huis toe gekom het.

18. Die man van God het mos vir die koning gesê: “Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.”

19. Die koning se adjudant het toe vir die man van God gesê: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!” En die man van God het geantwoord: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”

20. Dit het presies so gebeur, want die menigte het hom in die stadspoort doodgetrap.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 7