hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gelykenis van die boer en sy

saad

1. Jesus het toe weer die mense op die strand begin onderrig. Daar drom toe so ’n reuse skare om Hom saam dat Hy in ’n skuit wat op die water vasgemeer was, gaan sit het terwyl die hele menigte op die strand was.

2. Hy het hulle toe breedvoerig deur middel van gelykenisse onderrig. Hier volg ’n tipiese gelykenis:

3. “Luister nou goed,” het Jesus gesê. “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai.

4. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik.

5. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet.

6. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog.

7. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik en dit het geen oes voortgebring nie.

8. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het opgekom, gegroei en ’n oes voortgebring – tot 30 en 60 en 100 maal wat oorspronklik gesaai is.

9. Elkeen wat kan hoor,” het Jesus gesê, “moet goed luister na wat Ek sê.”

Waarom Jesus gelykenisse

gebruik

10. Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?”

11. Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word:

12. ‘Sodat hulle sien wat Ek doen, maar nie die bedoeling daarvan verstaan nie;sodat hulle my woorde hoor,en dit tog nie begryp nie;sodat hulle nie van hulle sondes wegdraaien vergewe word nie.’”

Jesus verklaar die gelykenis van

die saaier

13. Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel?

14. Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi.

15. Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg.

16. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem.

17. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof.

18. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor,

19. maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug.

20. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.”

’n Lamp wat brand, moet gesién

word

21. Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei.

22. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom.

23. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

24. Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang.

25. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.”

Die gelykenis van die saad wat

stilweg groei

26. Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai.

27. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie.

28. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar.

29. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.”

Die gelykenis van die

mosterdsaad

30. “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig?

31. Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is,

32. maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.”

Jesus se onderrig bestaan uit

gelykenisse

33. Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan.

34. Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik.

Jesus kalmeer die storm

35. Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36. Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus – Hy was immers alreeds in die skuit – sommer net so saamgeneem (alhoewel daar ander skuite agternagekom het).

37. Daar het ’n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het.

38. Jesus het agter in die skuit gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?”

39. Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom.

40. Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?”

41. Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”