hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus vergewe en genees ’n

verlamde persoon

1. Toe Jesus ná ’n hele aantal dae na Kapernaum terugkeer, het dit rugbaar geword dat Hy weer by die huis is.

2. Gou-gou was die huis so vol mense dat daar vir niemand meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel.

3. Daar daag toe vier mans by Hom op wat ’n verlamde persoon op ’n mat dra.

4. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ’n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.

5. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “My seun, jou sondes word vergewe.”

6. Maar party van die skrifkenners wat daar gesit het, het by hulleself gedink:

7. “Wat? Dis tog laster! Net God kan sondes vergewe!”

8. Jesus het sonder meer geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom dink julle dit is laster?

9. Wat is makliker – om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’?

10. Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.” Daarop sê Jesus vir die verlamde man:

11. “Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan na jou huis toe!”

12. Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitentoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: “So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!”

Jesus roep vir Levi die tollenaar

om sy dissipel te word

13. Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig.

14. Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword.

15. Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.)

16. Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”

17. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

Jesus se mense moenie vas nie,

maar feesvier

18. Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?”

19. Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie.

20. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.

21. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.

22. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!”

Mense is baie belangriker as

sabbatswette

23. Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet.

24. Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”

25. Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie?

26. Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.”

27. Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie.

28. Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.”