hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus deur Pilatus verhoor

1. Pas vroegoggend het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifkenners – trouens, die volle Sanhedrin – tot ’n besluit gekom. Hulle het Jesus geboei en toe aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.

2. Pilatus het Jesus begin ondervra: “Is jy die Koning van die Jode?”Jesus het hom geantwoord: “Ja, dit is soos u sê.”

3. Die priesterhoofde het baie beskuldigings teen Jesus ingebring.

4. Pilatus het weer ’n vraag aan Hom gestel: “Antwoord jy dan niks nie? Wat van al hierdie beskuldigings teen jou?”

5. Maar tot Pilatus se verbasing het Jesus op geen enkele beskuldiging gereageer nie.

6. Die goewerneur was gewoond om elke jaar tydens Paasfees een gevangene vir die volk vry te laat – dié een waarvoor hulle gevra het.

7. Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met ander veroordeel weens ’n moord wat hulle tydens ’n opstand gepleeg het.

8. Die skare het oproerig geword en van Pilatus begin eis om soos gewoonlik ’n gevangene vry te laat.

9. “Moet ek vir julle die Koning van die Jode vrylaat?” vra hy hulle toe –

10. hy het immers besef dat die priesterhoofde Jesus uit naywer laat arresteer het.

11. In hierdie stadium het die priesterhoofde die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat.

12. Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle die Koning van die Jode noem?”

13. Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!”

14. “Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?”Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!”

15. Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

Die soldate gésel en bespot Jesus

16. Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en

17. trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop.

18. Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

19. Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon.

20. Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Jesus word gekruisig

21. ’n Man met die naam Simon, wat van Sirene afkomstig was, kom toe juis van buite die stad af by hulle verby – hy was die pa van Aleksander en Rufus. Die soldate kommandeer hom toe op om Jesus se kruis te dra.

22. Toe bring hulle Hom na ’n plek met die naam Golgota – dit beteken Kopbeenplek.

23. Hulle wou Hom toe wyn wat met mirre gekruie was, gee om te drink, maar Hy wou dit nie neem nie.

24. Daarna het hulle Hom gekruisig. Hulle het sy klere verdeel deur met dobbelsteentjies daaroor te beslis.

25. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26. ’n Plakkaat bokant Jesus se kop het die rede vir sy veroordeling uitgespel: “Die Koning van die Jode.”

27. Saam met Hom het hulle ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

29. Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Ha-ha, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou!

30. Red jouself nou, en kom van die kruis af!”

31. Die priesterhoofde en die skrifkenners het ook onder mekaar met Jesus gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie.

32. Hy is dan glo die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Jesus sterf en ’n Romeinse

offisier verklaar dat Hy die Seun

van God was

33. Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag.

34. Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?”

35. Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia.

36. Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!”

37. Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas.

38. Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder.

39. Toe die Romeinse offisier oor honderd wat reg voor Hom gestaan het, Jesus só sien sterf, was sy woorde: “Waarlikwaar, hierdie man was die Seun van God!”

40. Daar was ook vroue wat alles op ’n afstand dopgehou het, onder andere Maria Magdalena, Maria – die ma van Jakobus junior en Joses – en Salome.

41. Hulle was volgelinge van Jesus en het vir Hom gesorg toe Hy in Galilea was. Baie ander vroue wat saam met Jesus Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus se liggaam in ’n geëerde

raadslid se graf

42. Dit alles het gebeur op die Vrydag, die dag van die voorbereiding vir die Sabbat. Omdat dit reeds amper aand was,

43. het Josef van Arimatea, ’n geëerde raadslid, ’n man wat self verlang het na die begin van God se koningsheerskappy, moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en te vra of hy Jesus se liggaam kon kry.

44. Pilatus kon nie glo dat Jesus al dood was nie. Hy laat toe die offisier roep en vra hom of Jesus al lankal gesterf het.

45. Toe die offisier dit bevestig, het Pilatus Jesus se liggaam goedgunstiglik vir Josef gegee.

46. Josef het ’n lang strook linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en in ’n graf neergelê wat in die rots uitgekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol.

47. Maria Magdalena en Maria, die ma van Joses, het gestaan en toekyk waar Jesus neergelê word.