hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jesus gaan toe voort: “Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op ’n magtige manier begin.”

Jesus word verheerlik

2. Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander.

3. Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie.

4. Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat.

5. Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

6. Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik.

7. Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.”

8. Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.

9. Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.”

10. Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken.

11. Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?”

12. Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word?

13. Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.”

’n Seun met ’n bose gees word

genees

14. Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer.

15. Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet.

16. Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?”

17. Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak.

18. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.”

19. Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.”

20. Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.

21. Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?”“Van kleins af,” was sy antwoord.

22. “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”

23. “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”

24. “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”

25. Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.”

26. Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!”

27. Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan.

28. Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?”

29. Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”

Jesus kondig weer sy komende

30. Hulle het toe daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou dit egter nie rugbaar laat word nie,

31. want Hy wou tyd hê om sy dissipels te onderrig. Sy woorde aan hulle was: “Die Seun van die Mens gaan aan die mag van mense oorgegee word. Hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”

32. Hulle het dit nie verstaan nie, maar was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie die belangrikste in God se

koninkryk is

33. Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?”

34. Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is.

35. Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”

36. Toe laat Hy ’n kindjie tussen hulle staan en slaan sy arms om hom met die woorde:

37. “As jy een van hierdie kindertjies in my Naam verwelkom, verwelkom jy vir My. En as jy My verwelkom, verwelkom jy nie net vir My nie; jy verwelkom ook my Vader wat My gestuur het.”

Wie nie teen ons is nie, is vir ons

38. Johannes sê toe vir Hom: “Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.”

39. “Moenie hom keer nie,” het Jesus gesê, “want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie.

40. Wie nie teen ons is nie, is vir ons.

41. Ek verseker julle, as enigiemand vir julle ’n beker water gee omdat julle van die Messias se mense is, sal God hom beslis daarvoor beloon.”

Waarskuwing teen

struikelblokke

42. “Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, in sy geloof laat struikel, sal dit vir daardie persoon beter wees om in die see gegooi te word met ’n swaar meulsteen vasgemaak om sy nek.

43. En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met een hand te lewe as om met twee hande en al in die hel te beland waar die vuur nooit geblus word nie.

45. En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met net een voet te lewe as om met twee voete en al in die hel te beland.

47. En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is vir jou beter om met een oog in God se koninkryk in te gaan, as om met twee oë en al in die hel te beland

48. waar die wurm nooit doodgaan nie en die vuur nooit geblus word nie.

49. “Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk.

50. Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe.”