hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God.

pad vir die Seun van God gereed

2. In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf:“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.Hy sal die pad vir jou regmaak.

3. Hy is ’n stem wat uitroepin die woestyn:‘Kry die Here se pad gereed.Maak vir Hom ’n hoofweg.’”

4. Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Hy het in die woestyn opgetree en gepreek dat die mense hulle moes laat doop as teken dat hulle tot inkeer gekom het en so vergifnis van sonde ontvang het.

5. Skares mense van Jerusalem en van oor die hele Judea het na Johannes toe gekom, en nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop.

6. Johannes se klere was van kameelhaar en hy het ’n leerbelt om sy middel gedra. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

7. Hy het aangekondig: “Daar kom Iemand ná my wat belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers werd is om soos ’n slaaf te buk en sy sandale los te maak nie.

8. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word deur Johannes

gedoop

9. Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.

10. Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom.

11. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”

Jesus word deur Satan versoek

12. Dadelik hierna het die Heilige Gees Jesus na die woestyn laat gaan.

13. Hy was daar vir 40 dae terwyl Hy deur Satan versoek is. Hy was daar saam met die wilde diere, en engele het Hom versorg.

Jesus maak vissers sy eerste

dissipels

14. Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig.

15. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!”

16. Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep.

17. Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!”

18. En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan.

19. ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak.

20. Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan.

Jesus genees iemand met ’n

onrein gees

21. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee.

22. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners.

23. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep:

24. “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!”

25. Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!”

26. Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan.

27. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!”

28. Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.

Jesus maak Petrus se skoonma

en baie ander siekes gesond

29. Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle.

30. Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel.

31. Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei.

32. Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring.

33. Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien.

34. Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie duiwels uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê.

Jesus preek deur die hele Galilea

35. Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid.

36. Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.”

38. Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.”

39. So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf.

Jesus maak ’n melaatse man

gesond

40. ’n Man met ’n ernstige velsiekte het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41. Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!”

42. Net daar het die ernstige velsiekte verdwyn – die man was gesond.

43. Jesus het hom toe dadelik weggestuur nadat Hy hom ernstig aangespreek het met die woorde:

44. “Sorg dat jy met niemand langs die pad praat nie. Gaan reguit na die priester. Laat hy jou ondersoek. En bring die offer wat die wet van Moses vereis vir ernstige velsiektes wat genees is. So sal almal ’n duidelike bewys hê van jou genesing.”

45. Maar die man het weggegaan en die nuus van wat met hom gebeur het, oral versprei. Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom.