hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus maak iemand op die

Sabbat gesond

1. Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ’n man met ’n misvormde hand.

2. Omdat dit op die Sabbat was, het Jesus se vyande Hom fyn dopgehou. Sou Hy die man se hand op die Sabbat gesond maak? Indien wel, sou hulle Hom kon aankla.

3. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier in die middel.”

4. Daarna sê Hy vir sy teenstanders: “Mag ’n mens goeddoen op die Sabbat of kwaad? Is hierdie dag bedoel om ’n lewe te red of te vernietig?” Maar hulle wou Hom nie antwoord nie.

5. Terwyl hulle so rondom Hom staan, het Hy hulle die een na die ander met verontwaardiging aangekyk, diep bedroef oor die gevoelloosheid van hulle harte. Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en sy hand het gesond geword.

6. Dadelik het die Fariseërs uitgegaan en saam met Herodes se ondersteuners gaan beplan hoe hulle Jesus gaan doodmaak.

Groot skares kom na Jesus toe

7. Jesus het saam met sy dissipels na die see toe gegaan. ’n Groot skare het agter Hom aangekom – van Galilea, Judea,

8. Jerusalem, Idumea, oorkant die Jordaan, en selfs van so ver as Tirus en Sidon. Die nuus van wat Hy gedoen het, het wyd versprei en ’n groot menigte mense het na Hom toe gekom.

9. Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om ’n bootjie vir Hom gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap.

10. Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak.

11. Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!”

12. Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie.

Jesus kies twaalf apostels om

koninkrykswerk te doen

13. Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom.

14. Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek,

15. en om met volmag duiwels uit te dryf.

16. Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het: Simon (Jesus het sy naam verander na Petrus),

17. Jakobus en Johannes (die seuns van Sebedeus, maar Jesus het hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gegee),

18. Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (die seun van Alfeus), Taddeus, Simon (die Yweraar),

19. Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het).

Jesus se vyande beweer Hy is

van die duiwel besete

20. Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie.

21. Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.”

22. Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie baasduiwel dat hy die bose geeste uitdryf.”

23. Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra.

24. “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie!

25. En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie!

26. Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom.

27. Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof.

28. “Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word,

29. maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.”

30. Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was.

Jesus se ware gesinslede is hulle

wat aan God gehoorsaam is

31. Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom.

32. Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters staan buite en vra na U!”

33. Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?”

34. Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers.

35. Elkeen wat aan God gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”