hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God.

2. Hy was reeds in die begin by God.

3. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

4. In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.

5. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie!

6. Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes.

7. Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo.

8. Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig.

9. Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld.

10. Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie.

11. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.

12. Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

13. Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.

14. En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

15. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’”

16. Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.

17. Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18. Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak.

Johannes die Doper: ’n stem wat

roep in die woestyn

19. Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?”

20. Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.”

21. En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?”“Nee, ek is nie,” sê Johannes.“Is jy dan die profeet?”“Beslis nie!” het hy geantwoord.

22. Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?”

23. Sy reaksie was:“Ek is ’n stem wat roep in die woestyn:‘Maak die pad van die Herereguit.’”Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.

24. Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.

25. Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”

26. Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie.

27. Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”

28. Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

Die Lam van God uitgewys

29. Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

30. Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’

31. Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.”

32. Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit.

33. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’

34. Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”

Twee dissipels van Johannes die

Doper word Jesus se eerste

dissipels

35. Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels.

36. Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!”

37. Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg.

38. Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit ‘leermeester’ – “waar gaan U tuis?”

39. Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.

40. Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.

41. Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.”

42. Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’vertaal word) genoem word.”

43. Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg my!”

44. Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp.

45. Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.”

46. Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”“Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi.

47. Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.”

48. Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?”“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.”

49. Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50. Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51. Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”